ONS het almal geweet die oomblik moet aanbreek, maar ons wou dit so lank moontlik uitstel. Nou is oudpres. Nelson Mandela weg, ons geliefde Madiba.

[post-slider] Hy het wel die afgelope paar jaar uit die openbare oog verdwyn nadat die jare hom van sy kragte gestroop het, maar dit was vertroostend om te weet hy is nog hier – in die land wat hy so wesentlik help verander het. En dat Graça Machel, wat hom in sy laaste jare so gelukkig gemaak het, sy kombers om sy knieë vou en sy versorgers hom bystaan, ongetwyfeld bewus van hoe bevoorreg hulle is om so ’n grootse man te help. Toe hy eindelik groet, net vyf maande nadat almal verheug was dat hy die rype ouderdom van 95 bereik het, het die wêreld saam getreur.

"Hy het lid geword van ’n klein groepie mense, soos oudpres. John F. Kennedy van Amerika en prinses Diana van Brittanje, wie se dood die wêreld tot stilstand geruk het en vir ewig in ons geheue gegraveer is."
’n Mens kan met sekerheid sê elke wêreldburger sal onthou waar hulle was en wat hulle gedoen het toe hulle hoor Madiba is dood. Hy het lid geword van ’n klein groepie mense, soos oudpres. John F. Kennedy van Amerika en prinses Diana van Brittanje, wie se dood die wêreld tot stilstand geruk het en vir ewig in ons geheue gegraveer is. In ’n huldeblyk in Kaapstad ná sy dood het sy ou vriend, aartsbiskop Desmond Tutu, die staatsman so beskryf: “Hy was vir seker uitsonderlik, maar die gees van grootsheid waarvan hy die vergestalting was, is in almal van ons. Ons is almal bestem vir grootsheid.” Dit laat mens terugdink aan wat die aartsbiskop’n paar jaar gelede oor sy vriend gesê het: “Die Here moes Suid-Afrika baie liefgehad het om vir ons ’n geskenk so kosbaar soos Nelson Mandela te stuur.” OP ’N manier was ons tog voorbereid op hierdie hartseer dag. In Januarie 2011 het Suid-Afrika asem opgehou toe ’n verswakte Madiba in die Milpark-hospitaal in Johannesburg opgeneem is met chroniese longontsteking. In daardie spanningsvolle tyd het die Suid-Afrikaanse regering onder kritiek deurgeloop omdat hulle nie die wêreld behoorlik ingelig het oor die ikoon se gesondheid nie. Hulle het beloof hulle sou volgende keer beter vaar.

Tog sou die maghebbers nog foute maak toe Madiba weer in die hospitaal opgeneem en ontslaan is: In een geval is ’n verkeerde hospitaal se naam verstrek en in ’n ander geval onvoldoende inligting, hier is vals hoop gegee en daar oppervlakkige woorde.

Desember verlede jaar was vir Suid-Afrikaners ’n maand van onsekerheid toe Madiba 20 dae lank in ’n hospitaal in Pretoria was, ook op Kersdag. Gerugte het selfs die ronde gedoen dat hy reeds dood is en dat die owerheid die nuus verswyg sodat die Kerstyd nie in ’n routyd ontaard nie.

Suid-Afrikaners was verheug toe hy eindelik ontslaan word, maar einde Maart het die kommer opnuut geknaag toe hy weer nege dae lank in die hospitaal was.

In April het pres. Jacob Zuma en ’n ANC-afvaardiging Madiba saam met ’n SAUK-nuusspan by sy huis in Hough­ton besoek, glo om die land gerus te stel dat hy gesond is. “Ons het met hom gesels, bladgeskud, hy het geglimlag. Hy is op die been en sy toestand is bestendig. Ons is baie bly; ons dink hy is piekfyn,” het Zuma gesê.

Sy woorde is met woede uit alle oorde begroet, want Madiba was klaarblyklik allermins piekfyn. Hy was toe ’n 94-jarige man aan die einde van sy lewe. Hy het nie geglimlag nie en was afgetrokke en swak. Hulle moes hom met rus gelaat het en nie vir politieke gewin ten toon gestel het nie, het mense gesê.

Winnie Madikizela-Mandela het selfs daarop gesinspeel dat dié besoek haar voormalige man se gesondheid ’n knou gegee het. “Dit was een van die onsensitiefste dinge wat iemand kon gedoen het,” het sy gesê.

Dis jammer dat dit die laaste openbare beeld is wat die wêreld van die ikoniese staatsman gesien het.

Gelukkig sal dit nie die blywende een wees nie. Die Madiba wat die wêreld geken en liefgehad het, het magic gehad – Madiba magic, daardie besonderse mengsel van liefde, hoop en humor. Die breë glimlag wat tot by sy hoë wangbene gestrek en sy oë laat skrefies trek het, is die gesig van Madiba wat die wêreld sal onthou. MADIBA se longe het hom jare lank las gegee. In 1988, toe hy nog in die tronk was, is tuberkulose by hom gediagnoseer. Hy was toe 70 en het kwaai begin hoes en oor die klammigheid in sy sel gekla. Hy is in ’n hospitaal op Stellenbosch opgeneem en daarna ses weke lank in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad behandel. In ’n land op die rand van ’n burgeroorlog het die vraag opgeklink: Wat sal met Suid-Afrika gebeur as hy in die tronk doodgaan sonder dat hy sy mense vry gesien en sy lewenslange droom van een mens, een stem verwesenlik het?

"Maar hy was ons Tata, die man wat meer vir sy land gedoen het as wat ons ooit kon hoop. Hy het ’n merkwaardige lewe gelei en ons sal sy nalatenskap koester."

Daar is gevrees dat ’n chaos en anargie sou losbars, maar Madiba het oorleef om as ’n vry man uit die tronk te stap en met vreugde sy vuis in die lug te bal.

Hy het sy drome sien waar word. Hy het die president van Suid-Afrika geword en mense van ver­skillende bevolkingsgroepe en vlakke van die same­lewing met sy natuurlike warmte en moeitelose sjarme bekoor.

Almal wou hom ontmoet en baie het, van wêreld­leiers soos pres. Barack Obama van Amerika tot popsterre soos die Spice Girls. Die model Naomi Campbell het hom selfs haar oupa genoem.

Maar hy was ons Tata, die man wat meer vir sy land gedoen het as wat ons ooit kon hoop. Hy het ’n merkwaardige lewe gelei en ons sal sy nalatenskap koester.

Hamba kakuhle, Madiba. Mooi loop