Weke lank het ons hom op die kassie gesien met daardie gespierde lyf van hom in ’n einaklein rooi Speedo gegiet.

Tog het Izak Davel (26) vinnig in Survivor South Africa: Santa Carolina gewys hy is nie net ’n spierpaleis wat heeldag in die son pronk nie – al was die ander deelnemers soms nydig op hom.

Izak het so ’n slag of wat hul planne lelik deurmekaargekrap en dinge so bewimpel dat selfs Okkert Brits se vlam eers danksy hom gered is, en toe tog uitgedoof is toe Izak teen hom gestem het. Maar die bordjies is verhang toe hy in ’n baie slim slenterslag deur sy mededeel-nemer Ashley Hayden ook uitgestem is.

‘‘Ek is trots op hoe ek die spel gespeel het,’’ sê hy. ‘‘Ek het meer uithouvermoë as wat ek gedink het. Ek het besef ek is ook nie so pieperig soos ek gedink het nie!’’

En dit is ook maar goed die eiland het sy spiere nog harder gebrei, want binnekort sien ons hom in ’n rol waarin hy ál sy staal sal moet wys.

Dié sexy donkerkop het onlangs ’n hoofrol in die fliek Getroud met Rugby losgeslaan.

‘‘Dit is ’n wonderlike rol, en daar gaan interessante ontwikkelings wees. Ek was so bly toe hulle bel en sê ek het die rol gekry,’’ vertel hy.

Dis op die gewilde kykNET-sepie gegrond en gaan steeds oor die liefdesintriges van rugby-spelers en mense in die sportkringe. Die derde en vierde seisoen van die reeks word ook intussen verfilm.

‘‘Dis ’n groot projek en ons verfilm oor die hele Gauteng,’’ vertel hy opgewonde oor die fliek wat in November uitgereik word.

‘‘Ek speel Reghart. Al wat ek van hom kan sê, is dat hy rugby speel. En daar gaan verrassings wees.’’

Hy is gelukkig net so tuis op die rugbyveld as op die verhoog en voor die kamera.

‘‘Ek het in my hoërskooldae op Lady Grey in die Oos-Kaap rugby gespeel, en ek speel ook nog gereeld raakrugby.’’

Daarby het hy in Survivor ’n vlymskerp spel geleer speel – veral daardie systappe . . .

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 15 April 2010.

[gallery link="file" order="DESC"]