Buite skyn die son op die onberispelike grasperke en blink swembaddens van Ballito, KwaZulu-Natal, maar hier in

die hospitaalkamer skree Jason Long (3) asof hemel en aarde vergaan.

Hy spoeg die fopspeen uit wat hom netnou nog rustig gehou het, en Jill Long streel saggies oor haar seun se blonde haartjies om hom te probeer troos. ’n Aar bult blou teen sy amper deursigtige vel. “Hy het ’n hoë pyndrempel, en wanneer hy huil, weet ek dis regtig baie seer,” sê sy.

Sy fopspeen, vertel Jill, is al wat haar seuntjie nog in sy mond sal sit. Want al sedert hy agt maande oud is, eet hy nie

meer nie, en voor hy in September 2008 ’n operasie ondergaan het, het hy net genoeg vloeistof ingeneem om te oorleef.

As baba het Jason aan ’n ernstige refluksprobleem gely, en die suur wat sy slukderm gebrand het, het hom so seergemaak dat hy sedertdien weier om te eet.

Die suurprobleem is al 19 maande gelede herstel, maar hy eet steeds niks. Die seuntjie is eindelik stil, met die fopspeen terug in die mond en ’n skryfding in die hand waarmee hy op ’n stuk papier en op homself krabbel.

Jill skud haar kop. Die dokters sê haar kind se probleem is moeilik om op te los, en sy en haar man, Bruce, is lankal by radeloos verby.

Want was dit nie vir die voedingsbuis wat nou permanent in sy maag moet bly nie, het klein Jason lankal gesterf van die honger.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 6 Mei 2010.

Bespreek vir Skouspel!