Die wie's wie van Hollywood het Saterdagaand weer hul beste voetjie voor gesit vir die jaarlikse Screen Actors Guild Awards in Los Angeles.

Huisgenoot se mode-assistent Peta-Lee Matjaola het haar keuses saamgestel vir die sterre wat volgens haar die mooiste gelyk het, en natuurlik ook diegene wat die swakste aangetrek was.

Lees ook: Húlle het vir ons die mooiste gelyk by vanjaar se Golden Globes

DIE BESTES

Alicia Vikander

Alicia het geskitter in ’n asemrowende en unieke skepping deur Louis Vuitton. Die noupassende rok was heeltemal met blinkers bedek en prentjiemooi. Dié Sweedse aktrise het weggestap met die prys vir beste vroulike byspeler vir haar rol in The Danish Girl.

Brie Larson

Die blou Versace-skepping pas die wenner van beste vroulike aktrise soos ’n handskoen en die onverwagte uitsnydetail en knope laat dit anders as enige ander rok lyk. Brie het die prys ingepalm vir haar rol in die dramaprent Room.

Marisa Tomei

Die The Big Short-ster Marisa Tomei in ’n blougroen skepping deur Zuhair Murad. Die kralewerk sorg vir net die regte hoeveelheid glans en die dun silwer belt is die perfekte bykomstigheid.

Helen Mirren

Die 70-jarige aktrise van Trumbo het omtrent die koppe laat draai in ’n versierde silwer rok en daarmee een ding duidelik gemaak: Sy sit altyd haar heel beste voetjie op die rooi tapyt voor!

Rachel McAdams

Rachel was pragtig in ’n swart rok deur Elie Saab wat oraloor met blink details versier was. Dié ster was benoem vir haar rol in Spotlight.

DIE SLEGSTES

Lori Petty

Die ster van Orange is the New Black se uitrusting was effe te oordadig – die borrelgomkleur en harnas-agtige afwerkings sit die pot heeltemal mis.

Christina Hendricks

Skouerstrikke is altyd óf ’n treffer óf ’n moderamp – ongelukkig vir dié Mad Men-aktrise is dit hierdie keer laasgenoemde.

Nicole Kidman

Waar kry jy al die valletjie, Nicole? By jou dogter se prinsesrokkies? Dié rok is effe te speels na my smaak en die strepe en valletjies is een te veel. Partykeer is eenvoud bloot beter.

January Jones

Dié pofferige rok was te swaar vir January se klein lyfie. Dit sou beter gewees het as die ontwerper minder materiaal om die borsgedeelte gebruik het.

Kate Mara

Dié rok sou ’n groot treffer gewees het as daar meer materiaal bo gebruik is en minder van haar bates sigbaar was. Die materiaal is ook ’n bietjie van ’n waagkans; dit lyk amper te natuurlik.