Zola wat deesdae in Amerika bly, het Woensdag aand vanuit Amerika geland.

Verlede jaar sou sy ook deelneem maar moes drie dae voor die resies weens ‘n virus-infeksie onttrek.

“Dis baie lekker om weer hier in Suid-Afrika te wees. Ek drink altyd heel eerste ‘n Cream Soda as ek hier aankom. Ons het dit nie in Amerika nie,” lag sy.

Sy is alleen hier maar sê dat haar kinders Lisa (18) en die tweeling Michael en Azelle (16) baie graag wou saamkom.

Sovêr gaan dit goed met haar gesondheid.

“Ek weet nie of ‘n mens ooit heeltemal gereed sal wees vir die Comrades nie, maar ek is die jaar fukser as wat ek die vorige paar jaar was. Nou moet ons net hoop die gesondheid hou!”

Dit sal vir haar wonderlik wees as sy dalk ‘n silwer medalje kan kry. “Enige plek onder agt ure sal ‘n bonus wees.”

Nadat sy verlede jaar op die nippertjie moes ontrek op dokters aanbevelings, het sy gedink om eers weer oor drie jaar deel te neem, maar nou is sy ‘n jaar later weer hier?

Zola lag. “Jong, almal het vir my gesê dit gebeur en dit is so. As daai Comrades gogga jou eers gebyt het, kan jy nie wegbly nie.”

*Die Comrades Marathon vind op 1 Junie plaas en die jaar hardloop atlete vanaf Pietermartizburg af Durban toe.

- Suzanne Venter