Sy is van Hawaii. Janel is in Oahu gebore en haar loopbaan het daar begin met optredes vir gemeenskapsteater.

Sy’s ’n talentvolle sangeres. Sy het ’n platekontrak by Geffen Records gekry en in 2007 ’n album uitgereik. Sy het ook op die klankbaan van die fliek Bratz gesing.

Sy was in die trefferreeks Heroes. Die meeste mense ken haar as Jade in Bratz, maar sy het ook ’n gereelde rol in Heroes gehad voor sy Mona begin speel het.

Sy en Ashley Benson het voor PPL al saamgewerk. Hulle was saam in die TV-reeks The O.C. toe hulle 16 was.

Sy het 11 tatoes. Dis almal klein; daarom het jy dit dalk nog nie eens opgemerk nie. Sy het die woord “passion” op haar linkerpols, ’n hartjie op haar linkerduim, die woord “free” op haar regtervoet, “Made in Hawaii” op haar linkervoet, die woorde “earth laughs in flowers” op haar ribbe en nog baie meer.

Sy is versot op Broadway. Janel se eerste groot rol was as die jong Cosette in die National Touring Company se Les Misérables. Daarna het sy dieselfde rol op Broadway vertolk.

- Janine Nel

Bronne: seventeen.com, popcrush.com