Suid-Afrika se laaste hoop op ’n Wimbledon-titel rus op die skouers van Chanelle Scheepers, wat vandag tweeuur SA tyd speel vir ’n plek in die eindstryd van die vrouedubbelspel.

In die eerste Grand Slam-halfeindronde van haar loopbaan sal sy en haar dubbelspelmaat, Shuko Aoyama, van Japan, teen Hsieh Su-wei van Taiwan en Peng Shuai van China te staan kom.

Dié prestasie is soveel meer merkwaardig, nie net omdat Shuko nog nooit verby die tweede ronde van ’n Grand Slam kon vorder nie, maar ook omdat die paar op die nipper besluit het om saam te speel en vir die kampioenskap in te skryf.

“Ons sien uit na die halfeindstryd, maar ons gaan nie druk op onsself sit nie,” het Chanelle gister aan die nuuswebtuiste iol.co.za gesê.

“Ons gaan net konsentreer om ons beste te lewer en die ondervinding te geniet.”

Hoewel sy in die enkelspel van vanjaar se Australiese Ope, Franse Ope en Wimbledon-kampioenskap in die eerste ronde uitgeskakel is, het Chanelle in 2010 in die enkelspel van die Franse Ope die vierde ronde gehaal en in dieselfde jaar by Wimbledon die derde ronde in die dubbelspel bereik.

Suid-Afrika het ’n goeie prestasierekord in die vrouedubbelspel by Wimbledon: Liezl Huber het die titel in 2005 en 2007 saam met Cara van Black van Zimbabwe verower.

– Christiaan Boonzaier.

Ekstra bron: wimbledon.org