[caption id="attachment_132318" align="alignnone" width="605"]Foto ter illustrasie: Pexels Foto ter illustrasie: Pexels[/caption]

Ná ’n moeilike swangerskap het die verpleegster Lynsey Bell vyf weke voor die verwagte datum in kraam gegaan.

Toe die 32-jarige Lynsey na die teater gehaas word, het sy gehoor haar babaseuntjie gaan doodgebore word.

Lynsey het glo kort nadat sy opgeneem is, inwendig begin bloei en weens komplikasies met die swangerskap, het sy twee dae lank in ’n koma verkeer.

Lynsey en haar man, Mark (32), het drie ander kinders, Daisy (10), Max (7) en Poppy (4). By die geboorte van haar derde kind, Poppy, het sy pre-eklampsie – ’n toestand wat hoë bloeddruk en ’n hoë inhoud van proteïene in die urine veroorsaak. Die toestand het veroorsaak dat haar plasenta van die baarmoeder geskei het en haar niere het begin oppak.

Nadat Lynsey twee dae lank om haar lewe geveg en daarna besef het sy het haar babaseuntjie verloor, het sy daarop aangedring om hom te sien. Sy het die kind opgetel en vir hom begin sorg asof hy lewendig is.

“Ek het nie geweet hoe hy sou lyk nie. Ek was bang, en toe ek my hand uitsteek om aan hom te vat, was hy koud en sy wange was hard,” het sy aan Brittanje se Daily Mail vertel.

In die daaropvolgende 15 dae sou verpleegsters by die hospitaal Rory in ’n koue kamer hou sodat Lynsey en haar man by hom kon gaan kuier.

Lees ook: Ma deel hartroerende foto’s van babaseuntjie wat sy geweet het nie sou oorleef nie

Volgens Lynsey was sy eers bang om na haar babaseun te kyk, maar sy het gevoel dit is haar plig om na hom om te sien.

“Rory was my seun,” sê sy.

“Ek moes hom versorg. Ek het foto’s van sy gesig, agterkop en sy klein vingertjies en tone geneem. Ek het sy doeke omgeruil en hom in my arms gewieg. Ek het lief geraak vir hom.”

Sy sê haar grootste vrees was dat die kleinding warm sou word. “Ek wou hom so lank moontlik bewaar.”

Rory se lykie het die kans gekry om een aand by sy gesin te deur te bring voor hulle hom na die begrafnisonderneming sou neem.

“Een spesiale aand lank het ons als met hom gedoen wat ons in die eerste jaar van sy lewe met hom sou gedoen het.

“Ons het hom vasgehou en saam met hom in die bed stories gelees. Ons het hom gebad en die familie het gekom om hom te groet. Elkeen het ’n laaste kans gekry om hom vas te hou.”

Hulle het Rory die volgende dag langs Lynsey se oupa begrawe. Lynsey brand luidens berigte ’n kers elke keer dat sy by Rory se graf gaan kuier.

Lynsey en Mark treur nog baie oor Rory, maar Lynsey sê sy is bly sy het die geboorte oorleef.

“Mense voel ongemaklik wanneer hulle oor Rory praat, maar ek is mal daaroor om oor my seun te praat. Hy is net soveel ’n deel van ons gesin as wat my lewendige kinders is.

“Ek sal nooit my spesiale seuntjie vergeet nie en ek wil so lank moontlik die kers by sy graf laat brand.”

Bronne: The Daily Mail, The Mirror