As Karin in Egoli, Suid-Afrika se eerste volbloedsepie, was sy 12 jaar lank een van ons geliefkoosde sepiekarakters. Dit was egter nie die einde van Lindie Strydom se dae op die kassie nie; ons het haar ook as aanbieder van Geloof, Hoop en Liefde op kykNET gesien. Maar haar passie vir haar gesin, mense en die lewe is wat jou die meeste inspireer. Ons het gaan inloer om te hoor waarmee sy deesdae alles besig is en wat haar so geanker hou.

lindievyf
1. Jy was 12 jaar in Egoli en soveel jare een van ons mees geliefde sepiekarakters. Mis jy ooit die rol van Karin?

My eerlike antwoord is: “Nee.” Toe ek die sepie groet, het dit gevoel soos die punt aan die einde van die sin. Ek het elke moontlike storielyn gespeel waaroor ek kon droom: van ’n plaasmeisie wat in die ryk Voster-familie ingetrou het (’n bietjie van ’n prinses Diana-hoek) tot die ambisieuse kant, waar Karin by die Vosters se sakeonderneming, Walco, werk. Daar was die gevegstonele, waar sy by die trappies afgerol het (dit was groot pret).

Aan die einde van my Egoli-seisoen was ek tevrede. Twaalf jaar is ’n lang tyd, en ek was ontsettend bevoorreg met al die verskillende storielyne waarby ek betrokke was. Daar was nie een vervelige dag nie. Ek onthou Henry Mylne, een van die regisseurs, het eendag vir my gesê: “As jy ooit die skoenlappers in jou maag verloor, is dit tyd om klaar te maak.” Ek kan eerlikwaar sê ek het tot op die laaste dag en tot met my heel laaste toneel nog altyd daardie skoenlappers in my maag gehad.

2. Waarmee is jy deesdae alles besig, en waarom is jy passievol hieroor?

My man, Johann, en ons kinders, Paul (11) en die tweeling, Hugo en Nina (9), is my eerste prioriteit. Ek is bevoorreg dat daar soveel buigbaarheid in my werkprogram is dat ek nie een gediggie, netbal- of krieketwedstryd misloop nie. Dis nie dat ek voel dis my plig as ma nie; ek geniet elke oomblik van die seisoen waarin my kinders is en wil niks misloop nie. Ons het so ’n jaar en ’n half gelede skuins oorkant ons kinders se skool ingetrek: Dis ’n draffie ver weg vir kitaar- of swemlesse. Ek is ook ’n spreker, skrywer en organiseerder van die gemeenskapsprojekte by Groot FM 90.5. Ek glo ’n mens kan mense deur die media bemagtig, opvoed en toerus in projekte wat hulle dan self in hul gemeenskappe kan aanpak. Hoekom het ek so passie hiervoor? Ek is vir ’n rede hier in Suid-Afrika.

Ek is lief vir my taal en ontsettend lief vir my land. Ek glo baie sterk daarin om te maak gebeur wat jy wil hê moet gebeur. Om die antwoorde te bied sonder om te wag. Ek sit nie op die paviljoen nie. Ek wag nie vir die kerk- of politieke leiers of vir enigiemand anders om dit te doen waarvoor die Here my roep nie. Ek glo in eienaarskap en die verantwoordelikheid en om te doen wat van my gevra word. Ek is passievol daaroor om almal wat so lou en flou en moedeloos is weer met vuur en passie aan te spoor.

lindietwee
3. Vertel ons van Lindie wanneer sy by die huis is: Wat is jou stokperdjies en wat doen jy om te ontspan? Wie is die regte Lindie?

Ek is ’n eggenote en ’n ma. In my oë is ek regtig die mees gewone mens wat ek ken. Ek het destyds ’n uitsonderlike geleentheid gekry om in Egoli te speel en het dit regtig aangegryp en elke oomblik daarvan geniet. Maar ek weet waar ek vandaan kom: Ek is net ’n gewone meisie van Port Elizabeth wat daarvan gedroom het om in Egoli te speel. Ek is baie nugter oor dit wat ’n mens geleen word. Ek is lief vir skryf en draf (nie baie ver nie; ek is nie jou tipiese atleet nie, maar dis vir my lekker). As ek dink aan die goed wat my help doen wat ek doen, is dit my tyd saam met die Here en my oefentyd.

Dit gee my krag en energie en laat my ontspan. Dit spits my ore en maak my oë oop. Ek leef met ’n toehand-oophand-beginsel: As die Here nou ’n geleentheid op my pad plaas, gryp ek dit aan en hou dit vas. Maar as die Here sê die seisoen is verby, kan ek daardie hand oopmaak en sê: “Goed, Here, wat is die volgende geleentheid wat U my gee wat ek met alles in my kan aangryp?”

4. Wat hou jou geanker?

Ongetwyfeld my geloof, gesin en familie. Die wete dat God gee en neem en dat ’n mens voluit moet aangryp wat Hy gee. Ek noem my gesin my hawe. ’n Mens kan soveel hoogtes bereik en ver vorder as jy geanker is. Dis so half ’n paradoks: Die hoogtes wat ’n mens in jou lewe bereik, hang af van dit wat jou geanker hou en dit wat jou vastigheid onder jou voete gee.

5. Jy is al 15 jaar getroud. Het jy en Johann ’n resep vir jul huweliksgeluk?

Ons het onlangs gesels oor die belangrikste eienskappe wat in die huwelik teenwoordig moet wees. Die woorde “humor”, “respek”, “vertroue” en “vriendskap” het opgeduik. Ek en Sakkie (Johann se bynaam) is van die begin af ’n span. Ons weet die Here is besig met ’n gesamentlike visie deur ons as ’n eenheid. Ek is op 23 met Sakkie (toe 27) getroud. Ons het gesamentlik gegroei. Ons het nog nie ons vasgestelde roetines en gewoontes gehad nie. Ons het al hierdie dinge saam gedoen en beleef. Toe ek met my werk as spreker begin, het ek in my gewoonheid gedink ’n mens kan net ander mense leer uit jou sukses en dit wat jy regkry.

My man is die een wat my geleer het ’n mens kan veel verder kom as jy eerlik is oor jou tekortkomings en dit wat jy nie regkry nie. Om te sê: “Dis wat ek glo die waarheid is en waarna ek streef, maar dis waar ek tekort skiet.” Hy is ook die een wat besonder kalm en nugter bly wanneer ek die dag oorweldig voel deur al die klein takies. Hy is ontsettend goed met mense. Met ons kinders se uiteenlopende persoonlikhede het hy soveel wysheid oor hoe om elkeen se verskille te respekteer en op sy manier gemotiveerd te kry. Hy is ’n man wat ek van nature respekteer. Ek bewonder hom en sien op na hom. Hy bied ’n veilige omgewing waar ek en die kinders kan blom.

huwelik
6. Julle het so ’n mooi liefdesverhaal wat baie sesse insluit. Vertel ons hiervan.

Ons eerste afspraak was op 17 Mei 2002 in ’n koffierestaurant in Melville. Ek het ná ons eerste afspraak vir my ma gesê: “Dis my trouman dié.” Ek het hom eintlik al voor ons eerste afspraak van agter by die kerk gesien. Ek en my vriendinne het ná die diens koffie gedrink en hy het so ’n entjie weg gestaan. Ek het vir hulle gesê: “Daar staan my trouman. Ek kan al ons krulkopkinders sien.” Hy het ’n chino-broek en ’n blou hemp aangehad en sy hare was afgeskeer. Ons kinders het almal krulhare. My man skeer sy hare op nommer een af en my hare is steil. Ek weet nie wat my daardie dag laat dink het aan krulkopkinders nie.

Ná ons afspraak op 17 Mei was ons ses weke later, teen 1 Julie verloof, en ons is ses maande later, op 12 Januarie 2002, getroud. Ons het hierna die sesse kas toe geslaan, net soos in ’n krieketwedstryd. Ons is nou al 15 jaar getroud en dit raak net lekkerder. Dit beteken nie jy het nie ook jou oppe en affe nie. Jy skaaf en skuur aan mekaar. Julle is twee unieke individue, maar watter vreugde is dit om die lewe saam te beleef!

7. Vertel ons van jou drie kinders: Wat waardeer jy die meeste van elkeen?

Ons is nogal een vir almal en almal vir een. Ons maak ’n ongelooflike span. My kinders weet ons gesin het vyf mense wat mekaar in ag neem. Elkeen het ’n plekkie in ons span, maar ook ’n rol en doel daarbuite. Ons soek na wie die Here ons gemaak het om te wees en gesels daaroor dat elkeen sy gawe en talent moet ontdek.

Paul is die kreatiewe skrywer. Hy is al op 11 jaar besig om sy eie boek te skryf. Hy het ’n ongelooflike verbeelding. Hy is ’n leser en filosoof en wonder hoe dinge werk. Hy is kreatief en soek nuwe maniere van doen. Hy is ’n kranige sportman en geniet swem, krieket en landloop. Hy stel doelwitte en sal dalk eendag in ’n fliek wil speel.

Vrolike Nina is vir seker die een wat die opgewekte atmosfeer in ons huis bepaal.

Sy sing en dans deur die lewe. Sy het die afgelope jaar haar groot liefde ontdek: Sy is ’n sangeres en wil dit met haar hele lewe nastreef. Sy gesels nie met ons nie; sy sing haar sinne. Sy is ook lief vir sport en neem aan redenaars en drama deel. Sy is die vrolikste mens wat ek ken en het die mooiste hartjie. Sy het die vermoë om uit haar hart opreg opgewonde te wees vir ander mense se sukses.

Hugo se naam beteken “wys en nadenkend”. Hy is werklik ons denker. Hy is die stilste van die drie, maar ’n vasbyter en so geduldig. Sy vermoë om te konsentreer en geduldig deur ’n ding te sukkel is net verstommend. Hy is die hoofseun van die Strydoms, want hy bring die briefies en dra die boodskappe aan. Deur Hugo weet ek altyd wat by die skool aangaan en watter briefie of geldjie skool toe moet gaan. Hy is ons staatmaker, hoofseun en rotsvas.

Ek waardeer hoe elkeen van ons kinders my vorm. Daar is tye dat ek ook deur die lewe sing, kreatief dink of geduldig deur iets stoei. Dis wonderlik om iets van jouself in jou kinders te sien, om te dink dat hulle ’n mengsel van mamma en pappa is.

familie
8. Hoe sal jy jouself as ma beskryf?

Ek is ’n baie praktiese ma. Ek wil niks misloop nie en is betrokke. Ek kan ’n krieketbal boul sodat my seun sy kolfwerk kan oefen of netbalballe gooi sodat Nina haar doele kan oefen. Ek bewonder ma’s wat lyk of hulle so kalm en altyd in beheer is. Ek het maar ’n sterk regterbrein wat soms oraloor is en op een slag met ’n klomp klein takies besig is. Maar ek is ook ’n mamma wat almal bymekaarhark en seker maak dat ons vanaand sesuur saam om die tafel eet en oor die dag gesels.

9. Jy is baie gelowig. Wat beteken die Here vir jou, en hoe help Hy jou wanneer groot besluite geneem moet word?

Die Here is die rede vir alles. Hy is my bron vir alles en die inspirasie agter alles. As mense dink ek het dalk die vermoë om hulle te inspireer, is God die een wat inspireer. Die Een wat momentum gee. Hy is die lewende water. Die Een wat ons roep, bekwaam en uitstuur. Ek is net ’n kind van Hom. ’n Dissipel wat agter Jesus aanstap en elke dag kyk waar Hy aan die werk is en hoe ek by hom kan aansluit. Vroeër in my lewe was ek dalk gesteld op doelwitte doer ver, maar ek is nou op ’n plek waar ek sê: “Here, wys my vandag wat my hand kan vind om te doen en laat ek dit met toewyding doen.”

Ek is elke dag dankbaar vir wat Hy vir my doen. Ek het my in genade en onvoorwaardelike liefde vasgeloop. My hele lewe is ’n dankie. Wanneer ek broodjies vir my kinders se kosblikke smeer, is dit ’n dankie vir Hom. Wanneer ek my projekte by Groot FM aanpak, is dit ’n dankie vir Hom. Wanneer ek iets doen om my man se las ligter te maak, is dit ’n dankie vir Hom. My lewe is ’n dankie vir dit wat God my so onverdiend leen. Ek kan net hoop dat ek in my leeftyd, deur dit wat ek doen en op die plekke wat ek kom, God se gee kan aangee.

[caption id="attachment_159758" align="alignnone" width="600"]Lindie bid met ’n groep mense. Lindie bid met ’n groep mense.[/caption]