Geskokte personeellede by die TV-stasie WDBJ7 in Virginië is in rou gedompel nadat twee van hul kollegas tydens ’n regstreekse TV-onderhoud doodgeskiet is.

“Ons harte is stukkend”

Die joernalis Alison Parker (24) en die kameraman Adam Ward (27) was by die Bridgewater Plaza naby Smith Mountain Lake om ’n insetsel vir die oggendnuus te verfilm.

’n Video wat tans soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, wys hoe Alison die onderhoud voer. Skote begin klap, Alison begin bloedstollend gil en die kamera beland op die grond.

Daarna word teruggeskakel na die ateljee, waar die skok op die gesig van die nuusanker, wat die hele voorval moes aanskou en aanhoor, die atmosfeer in die ateljee duidelik weerspieël.

“Dis ’n grusame dag vir ons familie en die gemeenskap wat ons bedien,” het die stasie se hoofmeteoroloog, Brent Watts, getwiet.

“Ek kan nie julle nie vertel hoe geliefd die twee was nie”, het die algemene bestuurder van WDBJ7 gesê. “Ons harte is stukkend.”

Adam Ward se verloofde, Melissa Ott, was in die TV-stasie se beheerkamer tydens die voorval en het die aanval sien gebeur.

WDBJ7 sê voorts die polisie soek steeds na die verdagte. Luidens berigte is drie skole in die omgewing ook gesluit terwyl die soektog aan die gang is.

Volgens Reuters kom dit voor asof die gewapende man 'n ontevrede gewese werknemer van die TV-stasie is.

Bronne: DPA, New York Times, The Guardian, TMZ

Sy het so pas by haar kêrel ingetrek