“Ons hart ruk in ons binneste oor die volmaakte babaseuntjie wat lyk of hy slaap. Ons wens net hy kon wakker word.”

[caption id="attachment_135540" align="alignnone" width="600"]Die kis waarin Belinda saam met haar babaseuntjie, Ryan, begrawe is. Foto: Jacques Myburgh Die kis waarin Belinda saam met haar babaseuntjie, Ryan, begrawe is. Foto: Jacques Myburgh[/caption]

So het een van Belinda Louw (35) se vriendinne vandag by die NG kerk Wonderboom gesê toe sy van dié ma en haar ongebore babaseun, Ryan, afskeid neem. Belinda is dood ná ’n fratsongeluk by ’n vulstasie in Gezina.

’n Motorwasser het beheer verloor oor een van die voertuie wat by die wassers gestaan het en hy het oor Belinda, wat 36 weke swanger was, gery.

Haar ongebore baba is dieselfde dag oorlede. Belinda het nog ’n week lank in die Muelmed-hospitaal om haar lewe geveg, maar sy het op 21 Augustus ook gesterf.

“Aan my skapie, woorde kan nie beskryf hoe lief ek vir jou was nie. Die spore wat jy gelaat het, sal my altyd bybly. Jy het my gemotiveer,” het Corné Hitge (28), Belinda se vriend en die pa van haar seun, tydens die seremonie gesê.

[caption id="attachment_135541" align="alignnone" width="600"]Corné staan en kyk vir die lykswa waarin die liefde van sy lewe en sy ongebore seuntjie ingelaai word. Foto: Jacques Muburgh Corné staan en kyk vir die lykswa waarin die liefde van sy lewe en sy ongebore seuntjie ingelaai word. Foto: Jacques Muburgh [/caption]

“Ek sal jou en Ryan tot in ewigheid liefhê. Ek hoop ons sal mekaar in die volgende lewe weer ontmoet.”

Haar emosionele broer, Xander Louw, het gesê hoe graag hy Ryan sou wou ontmoet.

“Toe sy die eerste keer vir my ’n sonarfoto oor WhatsApp stuur, het ek gedink hy gaan ’n klein stoutgat wees, maar ons sou hom baie bederf het,” het hy gesê.

Belinda en Ryan is saam in een graf begrawe.

? Corné maak in die jongste uitgawe (8 September) van Huisgenoot-tydskrif hart oop oor die tragedie.