Ou staatmaker

  • Smelt 125g botter en 40 ml gouestroop oor lae hitte .
  • Meng 2 ml koeksoda met 20 ml kookwater en voeg by die bottermengsel.
  • Verwyder van die hitte en roer 250 ml hawerrnout, 250 ml koekmeel, 250 ml suiker en 180 ml klapper by.
  • Skep teelepels vol op 'n gesmeerde bakplaat en bak sowat 20 minute by 160°C .
  • Maak 40 koekies.

Wennerwenk: Wanneer die deeg op die bakplaat geskep word, vorm dit taamlik hoë hopies, wat in die bakproses uitsprei. Die klapper kan ook deur 180 ml fyngedrukte ontbytgraanvlokkies vervang word.

Almal se gunsteling

Sandrah van der Linde van Kestell dié resep vir ons gestuur.

Lewer 50-60 koekies

Bereiding: 15-20 minute

Baktyd: 12-15 minute

  • 280 g (500 ml; 2 k) koekmeel
  • 3 ml (ruim ½ t) sout
  • 160 g (500 ml; 2 k) hawermout
  • 160 g (500 ml; 2 k) klapper
  • 300 g (375 ml; 1½ k) suiker
  • 250 g botter of harde margarien
  • 30 ml (2 e) gouestroop
  • 5 ml (1 t) koeksoda, opgelos in ’n bietjie melk
  • 1 eier, geklits
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 2 ml (½ t) amandelgeursel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit ’n paar bakplate met kossproei. Sif die meel en sout saam. Meng die hawermout, klapper en suiker by en meng goed. Smelt die botter of margarine saam met die gouestroop. Laat effens afkoel. Voeg die res van die bestanddele by en voeg dit dan by al die droë bestanddele. Meng die deeg goed en knie deeglik deur. Vorm klein bolletjies, plaas dit op ’n bakplaat en druk effens plat. Bak 12-15 minute of tot gaar. Laat effens afkoel op die bakplate en pak dan op draadrakkies om heeltemal af te koel. Bêre in lugdigte houers.

Wennerwenk: Smelt baksjokolade oor kookwater, skep dit in ’n pastieksakkie, knip ’n klein gaatjie aan die een kant en spuit die gesmelte sjokolade dan in dun strepies oor die koekies om dit ’n feestelike voorkoms te gee.

Mikromaklike hawermoutblokkies

Lewer sowat 28 blokkies

Bereiding: 15 minute

Mikrogolftyd: 2-3 minute per bakkie

  • 25 ml (5 t) gouestroop
  • 200 ml margarien
  • 500 ml (2 k) hawermout
  • 250 ml (1 k) klapper
  • 250 ml (1 k) koekmeel
  • 250 ml (1 k) suiker
  • 60 ml (¼ k) gemengde sade en neute of ontbytsaadmengsel
  • 125 ml (½ k) droë-bosbessies of gekapte dadels

Spuit 4 klein glasbakke van 10 x 10 cm elk goed met kossproei. Smelt die stroop en margarine 2 minute in ’n glasbak in die mikrogolfoond. Meng die res van die bestanddele en voeg by die stroopmengsel. Skep in die voorbereide bakke. Mikrogolf elke bakkie 2-2½ minute op 100 persent-krag tot stewig en ’n ligte goudbruin. Pasop vir te lank; die koekies word van binne gaar en sal van binne brand. Laat effe afkoel, sny in blokkies en bêre in lugdigte houers wanneer heeltemal afgekoel.

Wennerwenk: Bak die koekies in 1 groot houer pleks van 4 klein glasbakkies. Sny dit in blokkies en versier met gesmelte witsjokolade. Vervang die hawermout met ’n mengsel van droëappels, klapper, semels en ander droë graanvlokkies.