Gisteraand het ons gesien hoe die twee jongelinge van Nege Maande, Chantelle en Nikita, ma word en almal het vir oulaas bymekaargekom om te spog met hul baba.

Ons het met Chantelle en Nikita gaan praat om te hoor hoe dit gaan.

Dubbele vreugde

Centurion-20130927-00830

Chantelle en Niel Foord se seuntjies is ’n minuut uit mekaar op 11 September met ’n keiser gebore. Wian Albert is 14:27 (2,5 kg) gebore en Liam Matthys (2,01 kg), 14:28.

“Die geboorte was vir my scary en baie interessant, al was ek die hele tyd baie bang, maar is gelukkig daardeur met my man, ouers en skoonouers se ondersteuning” sê Chantelle.

“Ek dink alle vroue is maar ’n bietjie bang en opgewonde met hulle eersteling. Die pyn ná die tyd is bietjie eina maar ons vroue is gemaak daarvoor; ek het al die tweede dag begin loop.”

Chantelle sal nooit die oomblik vergeet toe sy haar seuntjies vir die eerste keer sien nie. “Dit was so emosioneel en wonderlik om te sien hulle is gesond en volmaak. Aan die begin het ek nie mooi geweet hoe ek albei gaan vashou nie; dit was bietjie moeilik maar ek het reggekom.”

“Op die stadium lyk Wian baie soos my broer en ek kan nog nie sien na wie Liam lyk nie, maar hulle het baie van hulle pa se gelaatstrekke en volgens my man slaap Wian soos ek wat nogal snaaks is om te sien.”

IMG-20130912-00745

Dit gaan goed met hulle almal en hulle oorleef.

“In die hospitaal het ek geleer om boek te hou van die twee en wat hulle doen, soos byvoorbeeld hoeveel hulle drink, hoeveel doeke daar is en dit werk baie goed, want dan kan jy presies sien wat aangaan.

“Die beste raad wat ek gekry het, is beslis om hulle nie te sus nie en dat ek by ’n roetine moet hou; nou drink en slaap hulle saam en dit werk baie goed.”

Die lekkerste van ma wees vir Chantelle is al die popspeel, “maar dit kan moeilik raak wanneer albei huil terwyl hulle pa by die werk is en ek alleen by die huis”.

Nikita hou van borsvoed

Nikita wou graag normaal kraam, maar moes ongelukkig ná ’n paar uur in kraam ’n keisersnee kry, en haar en Dylan se seuntjie, Ziandré Andries (2,62 kg) is op 13 September gebore. Volgens haar was die geboortepyne glad nie so erg as wat sy verwag het nie en die keiser was heel maklik.

“Die lekkerste ding nou is vir my om te borsvoed. Dit voel of ek dan regtig met die babatjie kan bond,” sê Nikita.

Dylan help tans waar hy kan en bly soms by Nikita-hulle se huis oor, maar dit is nog nie permanent nie. Hy is baie bly oor hulle seuntjie en kan nie wag om te sien hoe hy loop en praat nie.

“Die baie opstaan snags is net nogal rof. Ek staan gemiddeld twee tot drie keer per nag op, maar kan my verkyk aan hom wanneer hy slaap en glimlag terwyl hy droom,” sê Nikita.