Voor die stadion

Dit was ’n groot besluit. Moet ek na Mandela se diens gaan of nie? Dit gaan reën, daar gaan duisende mense wees, dit gaan moeilik wees om daar uit te kom. Al hierdie faktore het in my kop gemaal. Maar aan die ander kant, het die feit bly staan: Dis ’n groot oomblik in ons geskiedenis...

Dis ’n herdenking aan Nelson Mandela, die man wie die geskiedenis van Suid-Afrika verander en help vorm het. Met oor die 100 verskillende staatshoofde, leiers en die president van die Verenigde State, Barack Obama wat ’n toespraak lewer. En so, op die ingewing van die oomblik, besluit ek om te gaan.

Eers ry ons van die Gautrain in Rosebank na die Metrorail. Op die Metrorail-stasie begin almal van opwinding hardloop na die trein. Ons pak die trein soos sardiens vol. En die passasiers sing. Sommiges dra waterstewels en ander hakke. Sommige het geel Bafana-sokkerhemde aan, ander dra Suid-Afrikaanse vlae-serpe of gesigte van Madiba op hul hemde. In die trein is hy teenwoordig.

Druppels gly van die wasige vensters af. Die asems en die sang maak dit warm binne die trein, terwyl die reën buite neer stort. Dit is ’n lang rit, maar dit maak nie saak nie. Daar ver is die ENB-stadion sigbaar en die gedruis van dáár binne kan mens al saggies hoor.

Die trein het nog nie eers by die platvorm gestop nie, maar mense peul by die deure uit en hardloop oor die modder by die heuwels op om vinniger daar binne te kom. Toe die trein by die platvorm stop, is die res ook gretig om gou daar uit te kom.

Onder sambrele pak almal saam en luister na die toesprake, die hulde wat aan hom gebring word. Sy kleinkinders, Emeritus Desmond Tutu en visepres. Li Yuanchao van China is van die mense wat by die roudiens gepraat het.

Maar die woorde wat my by bly, is dié van pres. Obama: “En terwyl ek altyd tekort sal skiet wat Madiba se voorbeeld betref, maak hy dat ek ’n beter mens wil wees. Hy spreek tot die beste in ons.”

Soos ons met die trein terug ry, besef ek dat ek bly is ek het gegaan. En die volgende woorde begin vorm...

Die hemele het getreur, die aarde skoon gewas, gereinig, gevoed. Ons was daar in oorvloed. Vir die historiese totsiens.