Die vier uur lange baanbrekeroperasie wat klein Leah-Marie van der Riet Maandagaand ondergaan het, was ’n reusesukses.

Haar ouers, LeSueur en Manda, is verlig die ergste is verby en sien uit daarna om hul babadogter huis toe te neem.

Lees ook: Operasie van baba met gaping in haar bors glo 1ste vir SA: ‘Ons is hoopvol,’ sê haar pa

Leah-Marie is op 15 Oktober verlede jaar ’n maand te vroeg gebore met ’n gaping in haar borsbeen. Dit kan lei tot ernstige skade aan haar organe en selfs haar dood, sou enige drukking op daardie area geplaas word.

Dr. Susan Vosloo, die kardiotorakale chirurg wat die operasie gelei het, het die drie boonste ribbes met 5 mm verleng en die ribbes na mekaar getrek om die gaping toe te maak. Die oorblywende gaping van 1 cm is met maas bedek.

Dit is die eerste keer dat hierdie soort operasie in Suid-Afrika uitgevoer gedoen word.

“Leah se toestand is stabiel, maar sy is steeds in die intensiewesorgeenheid,” het LeSueur aan Huisgenoot gesê. “Sy is nog gekoppel aan asemhalingsmasjiene, maar ons glo sy sal binne ’n dag op haar eie kan asemhaal.”

Leah-Marie ontvang twee keer per dag fisioterapie sodat dit nie so seer is wanneer sy hoes nie. Manda het gesê hulle mag haar nog nie te veel sien nie, want sy mag nie in hierdie stadium nie baie gestimuleer word nie.

Wanneer sy haar ouers hoor praat, raak sy opgewonde, maar sy kan seerkry as sy beweeg.

Die meisietjie gaan nog ’n paar dae lank in die intensiewesorgeenheid aansterk voor sy na ’n algemene saal oorgeplaas sal word. Daarna kan sy ontslaan word.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Die soektog na Madeleine McCann: hoop vlam opnuut op

Oscar Pistorius se wolhaarhondjie: Vertroetel hom wanneer tronkdeur toeklap, vra kenner

Kyk hoe blom die liefde tussen dié beminde Afrikaanse sangerpaartjie

Kyk: Sue Duminy rits die wêreld vol en deel pragfoto’s van haar reise