Dis byna tyd vir die eindronde van die ATKV-Universiteitesêr! Die kampuswenners van die vyf deelnemende universiteite (Pukke, Kovsies, Tuks, UJ en Maties) sal môre-aand (Saterdag) in Potchefstroom meeding om die gesogte kroon van beste a cappella-sanggroep. Hulle is: Manskoshuise Heimat (Pukke), Sonop (Tuks), Wilgenhof (Maties), Drommedaris (UJ) en Veritas (Kovsies) Dameskoshuise Wag ’n Bietjie (Pukke), Hippokrates (Maties), Benjemijn (UJ), Curlitzia (Tuks) en Roosmaryn (Kovsies) Die eindronde sal op 31 Augustus om 18:00 regstreeks uitgesaai word op mktv.co.za. Op 29 September om 17:00 word ’n spesiale program op kykNET Musiek (kanaal 146 op DStv) uitgesaai waarin jy ook van die sang-aksie sal kan sien. 1.    Waarna sien jy die meeste uit van Saterdagaand se eindronde?

  • Marco: Ek sien baie uit na hoe ons hele land se grootste universiteite bymekaar gaan kom. Mense, koshuise, vriende, familie van Pretoria, Kaapstad, Johannesburg en Bloemfontein! Is rugby ook so ’n groot storie? 
  • Lee: Ek sien uit na die gees van die studente. Dis ’n groot aand op die universiteit-kalender, en ek glo die studente se gees saam met die senuwees gaan sorg vir ’n great aand.
  • Marcel: Ek sien die meeste daarna uit om die sêrlede se gesigte en reaksies te sien wanneer hulle voor soveel mense hul passie uitleef. Ek kry hoendervleis wanneer ek dink aan hoe baie dit vir hulle gaan beteken.
  2.    Watter raad het julle vir die sêrgroepe wat aan die eindronde deelneem?
  • Marco: Jy’s daar vir 'n rede – “own it”. Maak jou merk!
  • Lee:  Moenie te veel van daardie sjerrie drink nie. Dit warm dalk die stem op, maar dit belemmer dalk ook net die geheue en fokus.
  • Marcel: Moenie stres nie! Julle het dit tot hier gemaak, wat beteken julle is reeds onder die top-10 sêrgroepe in die land! As jy wil kaal hardloop ná jou vertoning, beteken dit jy het jou alles gegee en dit is hoe dit hoort.
3.    Dink julle “tuisveld-voordeel” (vanjaar Pukke) speel ’n groot rol?
  • Marco: Dis ’n voordeel, want jy ken die omgewing en jy voel tuis. Maar dit speel beslis nie die grootste rol nie. 
  • Lee: Ja en nee . . . Ja, want die Pukke is lekker gemaklik op hul turf, maar verlede jaar was ’n bewys dat dit nie regtig saakmaak nie. Maties het op Kovsies se gronde gewen.
  • Marcel: Beslis, want die twee groepe van Potch ken die drie venues waarin opgetree word baie goed. Hulle weet dus wat die akoestiek en dies meer behels en kan dit tot hulle voordeel gebruik.
  4.    Hoe vergelyk vanjaar se finaliste met verlede jaar s’n?
  • Marco: Daar is gehaltemusiek – stemme, harmonieë en verwerkings. Verlede jaar is daar net met kostuums en shows ’n merk probeer maak. 
  • Lee: Daar is ’n klompie van dieselfde koshuise by vanjaar se nasionale kompetisie. Ek dink veral met verlede jaar se wenners wat ’n besonder goeie vertoning gelewer het, het almal gevoel hulle moet ’n bietjie harder en beter werk om die eindronde te haal. Hulle is sterker en beter.
  • Marcel: Tienduisend maal beter en sterker! Ek het in my lewe nog nie sulke sêrtalent beleef nie en het skielik besef hoe baie begaafde sangers ons in die land het.
  5.    Julle is nou wel nie beoordelaars nie, maar as julle moes help beoordeel: Waarna soek julle in ’n wen-optrede?
  • Marco: Passie en skoon optredes. Van die koshuise het vier tot ses maande om te oefen, so daar is geen rede vir onsekerheid en afskeep-optredes nie. 
  • Lee: Musikaliteit is vir my baie belangrik – dit wat mense hoor, moet sin maak vir die normale mens. Hulle moet die regte note sing en op die ou end pret hê.
  • Marcel: Soliste! Og, ek kry sulke hoendervleis as die regte solis gebruik word en sy/hy maak almal vir daardie oomblik tjoepstil. En as jou eie komposisie briljant is, wen jy outomaties in my oë.
6.    Wat is dit wat die sêrkompetisie jaar ná jaar so ’n groot sukses maak?
  • Marco: Tradisie! Ma en pa onthou die sêrgroepe uit hul studentedae, so dan stuur hulle die kinders om daaraan deel te neem. Hulle gaan kyk dit ook om te sien of die standaard nog daar is, en vir koshuistrots. Gesonde kompetisie is ook ’n groot rede.
  • Lee: A capella begin wêreldwyd ál bekender raak as gevolg van flieks en programme soos Pitch Perfect, Glee en Smash; daarom verstaan die normale mens beter waaroor sêr regtig gaan. Dis ’n klomp talentevolle studente was saamsing en net hul harte uitleef op die verhoog. En die feit dat dit ’n kompetisie is . . . Almal wil wen!
  • Marcel: Ek dink die sukses daarvan word verseker deur die hype wat al wat ’n student is rondom dit skep. Daar is niks wat studente meer geniet as goeie musiek nie, en as dit nog hul eie koshuis, vriende, broer of suster is wat dit uitvoer, maak dit dinge soveel groter! Sêr bied sangers en jong mense ook ’n geleentheid om hierdie ongelooflike talente ten toon te stel.

- Suzaan Hauman