Quenten en Sandra Alberts van Observatory, Kaapstad, droom daarvan om ’n seekos-deli in hul buurt oop te maak. Daarom het hulle gehoop die R500 000-prysgeld in The Ultimate Braaimaster gaan hulle s’n wees.

Tog moes moes kykers gisteraand sien hoe die Quince Cooks in die tweede episode van hierdie gewilde buitelug-braaikompetisie op SABC3 uitgeskakel word.

“Ons was baie teleurgesteld, want ons het gehoop om die top-10 te haal,” sê die Quince Cooks-braaimeester, Quenten (46).

Hy verduidelik hulle was op hul senuwees en het paniekerig geraak. “Ons het die verkeerde besluite geneem toe ons die geregte kies om voor te berei.”

Die man-en-vrou-span het vir die kompetisie ingeskryf omdat hulle dit as ’n gulde kans gesien het om te reis en nuwe plekke te sien.

“Ons het ook wonderlike mense op die stel ontmoet, wat ons hoop lewenslange vriende sal wees,” sê Sandy (47), ’n spysenier.

Vir haar was die hoogtepunt die wildrit in die Hluhluwe-wildtuin. “Dit was die beste Moedersdag van my lewe.”

Vir Quenten, ’n kommersiële visser, was dit om ’n geelstert-tuna by Sodwana te vang en op die rif te duik.

Die twee ywerige kokke braai gereeld naweke saam met familie en vriende. Hulle maak die graagste kruisskyf gaar “omdat dit geurig en sag is, en die regte verhouding tussen vet en vleis het”.

Sandy sê die beste kompliment vir hulle is wanneer hul gaste hul vingers aflek.

Vrae aan die Quince Cooks (QC)

V: Wat is die snaaksste ding wat met julle op UBM gebeur het?

QC: Die oggend nadat ons by Hluhluwe aangekom het, moes ons deelneem aan ’n advertensie vir die Renault Koleos. ’n Regisseur het die spanne aangesê wat om te doen. Sy eerste woorde was, “Vandag skiet ons . . .” Thabiso, van die Darkies Unleashed-span, het hom onderbreek: “Skiet? Wat gaan ons skiet?”

Die regisseur het skielik besef hy staan in die middel van ’n wildtuin, en vinnig sy woordkeuse verander.

V: Wat was jul grootste vrees tydens die kompetisie?

QC: Om die eerste span te wees wat uitgeskakel word.

V: Wat was die moeilikste uitdaging?

QC: Die uitskakeling was baie intens. Ons was onder druk om al die geregte binne ’n bepaalde tyd klaar te maak en die beoordelaars te beïndruk.

V: Watter buitelug-omgewing was jul gunsteling tydens die verfilming?

QC: Sodwanabaai omdat dit die mooiste wit strande, warm seewater, wonderlike koraalrif en pragtige seelewe het. Daar is apies, wat soos stoute kinders is, en slange wat soos stoeiers baklei. Wanneer ons soggens wakker word, hoor ons die golwe op die strand en diere om ons hut. Ons wil beslis weer soontoe gaan as ons die geleentheid kry.

V: Watter span was jul grootste mededingers?

QC: Die West Coast Bro’s. Hulle is goeie kokke en werk goed saam onder druk.

V: Hoekom hou julle van braai?

QC: Die rook van die vlamme, die reuk van die kos wat gaar word en die hitte van die vuur, bring mense bymekaar; vandaar die goeie gees van vleisbraai.