Hy dra Armani in Benoni en reis gereeld na Monaco waar hy tyd saam met sy koninklike familie¸die Grimaldi’s, spandeer.

“Die foon is ge-tap,’sê hy en tik dramaties op die skermpie. ‘‘Maar dis vir my eie veiligheid. Die paleis wil ons net beskerm.’’

Sean Wittstock, broer van Haar Deurlugtige Hoogheid prinses Charlene van Monaco, gesels in die nuutste uitgawe van Huisgenoot (28 Julie 2011) met ons oor sy suster en al daardie gerugte rondom haar troudag.

Hy vertel ook van die vlieglesse wat hy nou aanpak en hoe daar Kersfees in die paleis gehou word.

“Oukersaand se vieringe begin altyd met ’n kerkdiens in die privaat kerkie op die landgoed. Daarna kuier ons almal saam in die vermaakarea, waar iemand, partykeer my suster, vir ons op die klavier speel. Dan deel ons geskenke uit.’’

Die Wittstocks moet deesdae by die koninklike reëls hou. Dit beteken byvoorbeeld geen Facebook-of Twitter-profiele nie. Hulle moet hulself gedra en mag nie dronk word in die openbaar nie. Maar dit is seker ’n skrale prys om te betaal vir so ’n luukse leefstyl.

Lees meer in die nuutste uitgawe van Huisgenoot.

Volg Huisgenoot op Twitter.