Ons het die gesoute Carmen Niehaus met ’n paar vragies gepeper.

Wat was vir jou ’n hoogtepunt op die Kokkedoor-stel?

My heel eerste aankoms op die stel was wonderlik, maar die hoogtepunt was beslis die laaste episode; kyk maar self wat alles daar gebeur.

Het die deelnemers jou beïndruk?

Daar is baie talentvolle kokke onder die deelnemers, soos tannie Poppie wat my ’n ding of twee kon leer oor konfyt kook. Dan is daar Tiaan se tegniek en interpretasie van ou kosse op ’n nuwe manier berei wat vir my indrukwekkend was. En ook Mynhardt se besadigde manier van sy ding doen om iets heerlik op te dis, het my ook opgeval.

Watter raad het jy vir voornemende kokke?

Gebruik die basiese tegnieke as riglyn, maar gee dit persoonlikheid met jou eie unieke styl, hetsy hoe jy dit voorsit of van watter smake jy hou. Gelukkig is daar deesdae nie meer voorskrifte soos byvoorbeeld dat ’n koek so hoog of so lig moet wees nie; as die koek kraak is dit ook okei, dit hang net af hoe jy dit gaan voorsit.

Sonder watter bestanddele kan jy glad nie kook nie?

Suurlemoen, koljanderblare en komyn.

En wat is regtig altyd in jou koelkas?

Natuurlike jogurt, lekker romerige Griekse jogurt verkieslik (ek eet sommer lepels daarvan net so wanneer die hongerlus my skielik oorval).

Vertel ’n bietjie oor jou werk as kosredakteur?

Ek beplan en skryf weekliks die kosblaaie vir Huisgenoot en YOU en soek interessante produkte vir die leefstyl-afdeling se voorblad. Dit behels die uitdink van ’n tema, ontwikkeling van resepte en uittoets daarvan. Hiermee help die assistente, Carmen Hendricks en Esther Malan my.

Ek werk ook saam met ’n stilis om elke gereg te fotografeer. Dan proeflees ek ook alle kosblaaie voor dit fabriek toe gaan. Ons is druk besig met ekstra kosboeke waar ons tussen 32 tot 100 resepte per tydskrif publiseer. Soms gebruik ons resepte en foto’s wat al voorheen in Huisgenoot verskyn het, anders ontwikkel en skiet ons heeltemal nuwe resepte (hier maak ons baie gebruik van lesers se resepte).

As die kosredakteur woon ek ook baie produkbekendstellings en geleenthede by, tree op as ’n beoordelaar soos byvoorbeeld by Checkers se boereworskompetisie, ek lewer praatjies en demonstrasies by die ABSA KKNK en TV-optredes, soos nou in Kokkedoor, en dan was ek ook al te sien op die joernaalprogram Pasella en die ontbytprogram Dagbreek.

Kan ons binnekort ’n nuwe resepteboek verwag?

Top Wenresepte 500 2 is splinternuut, met meer as 500 resepte.

Het jou kos al misluk?

Al baie, maar pleks van’n flop, beskou ek dit as ’n proeflopie waarop jy moet verbeter. Juis omdat ons nie die voor die hand liggende doen nie, is die moontlikheid daar, want jy probeer altyd nuwe idees en beproef nuwe geurkombinasies en produkte. Die wêreld se bekendste geregte het al as gevolg van ’n flop ontstaan, dink maar aan Tarte Tatin

-         Deur Haidee Muller