Ai! En toe beteken ’n rou stukkie lewer die einde van die pad vir die borrelende Mathilda Venter (20) en haar spanmaat, Hendry Olivier (30), in die tiende episode van die kykNET-kookprogram Kokkedoor.

Mathilda praat met Huisgenoot oor haar Kokkedoor-reis en wat sy uit die reeks geleer het . . . en slaan vure dood oor gerugte van liefde op die stel.

Hoe voel jy oor die einde van jou Kokkedoor-reis?

Ek is regtig baie trots op myself; als was een groot ervaring. Ek is glad nie hartseer nie en voel soos ’n nuwe mens. Dit het my ook ’n nuwe uitkyk gegee op kos maak.

Hoe was die Kokkedoor-ervaring?

Ek het van die eerste dag af dadelik tuis gevoel. Dis die dierbaarste, liefdevolste mense wat ek nog ontmoet het en ons het later soos een groot familie gevoel. Dit was baie pret en ons het die hele tyd gelag. Dit sal definitief altyd goeie herinneringe wees.

Het jy ’n voorgevoel gehad dat jy en Hendry dit nie gaan maak nie?

In dié spesifieke episode het ons dit glad nie verwag nie omdat ons met die vorige uitdaging baie goed gevaar het. Ek en Hendry het baie goed oor die weg gekom en ’n goeie gevoel oor ons idee gehad.

Wat sou jy anders doen?

Ek sou minder terughou en meer met my hart kook het deur nie te hard te konsentreer op hoe die eindresultaat lyk nie, maar eerder op hoe dit gaan smaak. En ek gaan definitief leer hoe om lewer gaar te maak!

Wat het jy uit die TV-reeks geleer?

Ek het baie van myself geleer. Ek is baie sterker as wat ek gedink het. Ek het baie deursettingsvermoë en is aanpasbaarder as wat ek gedink het. Ek het ook baie geleer van kos maak, veral by die ouer mense.

Wat is jou gunsteling-gereg om te maak?

Sjoe, enigiets wat ek kan maak met plaaslike of organiese produkte . . . of iets uit my eie groentetuin.

Wat is jou skuldige plesiertjie wat kos betref?

Rooiwyn en goeie sjokolade.

Watter ander stokperdjies het jy?

Ek geniet dit vreeslik baie om my groentetuin aan die gang te hou en te sien hoe die groente groei. Ek hou ook daarvan om met alternatiewe bestanddele te eksperimenteer om sodoende gesonde resepte te maak. Ek oefen ook graag; ek swem gereeld.

Wat was die lekkerste oomblik van die TV-reeks?

Definitief toe ek en Marinda Engelbrecht moes wors stop. Ons het so baie gelag dat ons heeltemal vergeet het van die kameras om ons en dat ons aan ’n kompetisie deelneem.

Was dit vreemd om jouself op TV te sien?

Dit was ’n bietjie vreemd om te sien hoe ek my gesig trek en watse maniertjies ek het, maar dit is lekker om te sien wat ek als aangevang het. Ek en my familie is elke Donderdagaand vasgeplak voor die televisie!

Daar’s gerugte dat daar liefde op stel was. Kan jy ons iets daarvan vertel?

Nee, daar was nie enige romanse nie. Die gerugte is nie waar nie. Ons almal het net baie goed oor die weg gekom en het goed bevriend geraak.

- Christiaan Boonzaier Janine Nel

KLIK HIER vir foto's van episode 10