Martjie Malan van Stellenbosch het 13 weke lank kykers se hart gesteel in Koekedoor met haar fyn, presiese benadering tot bak en ’n paar pragtige, gebakte skeppings.

Maar, ná ’n strawwe stryd in die slotaflewering het Mareli Visser die koek gevat en is as wenner aangewys.

Hoe voel jy oor die slotaflewering? Wat dink jy het teen jou getel?

Die eindstryd was inderdaad een van die uitdagendste episodes. Die tyd, druk en die groot prys wat in jou nek blaas, het beslis die spanning laat styg. Maar in my kalmte kon ek die uitdaging steeds geniet en aanpak. Ek dink nie iets spesifieks het teen my getel nie.

Hoekom het jy ingeskryf?

Dit was ’n groot uitdaging en die moontlikhede ná so ’n wonderlike produksie het my baie opgewonde gemaak.

Toe die reeks begin, wie het jy gedink het die beste kans om te wen?

Mareli was van die begin af ’n sterk deelnemer en ek het gedink sy was die sterkste kompetisie vir my. Wat het jy geleer? Die program vereis veel meer as net dit wat jy kan bak; dit verg senuwees van staal, fokus en uithouvermoë.

'Die program vereis veel meer as net dit wat jy kan bak.'

Met die latere episodes kon ’n mens sien hoe ek geleer het om te ontspan en die uitdagings met fokus aan te pak.

’n Mens leer nogal baie van jouself wanneer jy in sulke omstandighede geplaas word. Daar is ook vele resepte wat ek vir die eerste keer gebak het en ek is verryk deur ’n skatkis vol kennis oor nuwe en ou gebak.

Watter uitdaging was vir jou die lekkerste?

Ek het die Drywende Eilande baie geniet. Dit was nuut vir my en die verskillende elemente was pret om te maak.

Wat was vir jou die heel moeilikste?

Dit is moeilik van die huis af weg te wees met klein kindertjies.

Het Koekedoor jou lewe verander en wat hou die toekoms in? Herken mense jou al op straat?

Die voete wat in my winkel, M Pâtisserie op Stellenbosch, kom het ’n duidelike hupstoot gekry. My hoop is dat daar nog vele ander moontlikhede en geleenthede sal volg.

Watter kospersoonlikhede inspireer jou?

Die Australiese kosboekskrywer Donna Hay se eenvoudige styl en bestanddele inspireer my, maar terselfdertyd is ek ook geïnspireer deur Peggy Porschen van Brittanje wat pragtige, blomryke troukoeke maak. In Suid-Afrika is Errieda du Toit my grootste inspirasie, nie net oor dit wat sy in die kombuis vermag nie, maar die besonderse mens wat sy is.

Gunstelingkoek of -tert en hoekom?

Vye-frangipane-tert met lig geklopte room oortref alle ander gebak; dit is ryk, smaaklik en voldoen aan daardie diep behoefte van iets besonders.

Wat verkies jy, soet- of soutgebak?

Soet, Franse gebak is my gunsteling.

As kykNET weer ’n Koekedoor-reeks maak, wat sal jou raad wees aan voornemende deelnemers?

Om te fokus, asem te haal, goed te beplan en bo alles dit te geniet.

Waar kan mense jou kontak? (Facebook, Twitter, webtuiste?)