Die drama duur voort. En daar was selfs byna trane. Nee, ek is seker daar was trane.

Rob het Estelle gegroet. Hennie het vir Marléne koebaai gesê. Arno het Mareli huis toe gestuur. En Leon-Fritz het vir Tanya vaarwel toegeroep.

En net toe almal dink boer Johannes gaan nou vir Marga en Danielle sê om eerder hul goed te vat en trek, het hy hulle gevra om nog ’n bietjie te bly. Toe sê hulle wraggies ja! Nou sal ons maar ons stoele moet vashou en wag en kyk wat volgende gaan gebeur.

Die vroue wat die plase moes verlaat . . .

Wat sê Tanya?

“Die feit dat ek regte studeer, het Leon-Fritz beslis gepla. Ek het dit verwag,” sê Tanya. Sy meen Leon-Fritz beskik oor al die eienskappe wat sy eendag in haar man sal wil hê.

“Ek het met vrede in my hart gegroet. Leon-Fritz weet presies wat hy wil hê. Daar is altyd ’n doel met alles wat gebeur,” sê Tanya.

As sy iets moes verander sou sy meer moeite met haar brief gedoen het, verduidelik sy. “ ’n Behoorlike brief wat vir hom meer van Tanya kan vertel. Die laaste uur en kort e-pos het beslis bygedra dat hy in my as mens getwyfel het,” sê sy.

Wat sê Marléne?

“Toe Hennie vir die eerste vrou vra om langer te bly, het ek dadelik geweet ek gaan huis toe; ek het vrede beleef en geweet dit is nou my tyd om huis toe te gaan,” sê Marléne.

Sy sê sy is nie spyt sy het deelgeneem nie. “Ek het ongelooflik baie geleer en die wonderlikste mense ontmoet.

“Ek sou niks verander het as ek tyd moes terugdraai nie; ek was absoluut myself van die begin af en het elke oomblik geniet.”

Wat sê Estelle?

“Niemand hou van verwerping nie. As dit jou nie pla nie, het jy nie ’n hart nie. Al sou ek graag wou bly, het ek dus reeds so ’n bietjie van ’n idee gehad dat die karnallie my gaan pos,” sê Estelle.

“Ek het myself die hele dag daarop voorberei. Ek is geleer: Verwag die minste en as dit dan anders is, is dit net soveel lekkerder. En soos ek gesê het: Ek val nie in almal se smaak nie.” Estelle sê sy het nog nie moed opgegee dat haar prins sy opwagting gaan maak nie. “Al dink ek die bliksempie het soos Absalom in ’n boom vasgehaak . . . dis waarom hy my nog nie gevind het nie! Ek sal liefde met ope arms verwelkom, maar dit moet die regte mens wees. Ek mors nie meer my tyd met skarminkels nie.”

Sy meen sy het wel ’n bronsmedalje in die Boer Soek ’n Vrou Olimpiese Spele gewen.

Wat sê Mareli?

“Ek het verwag om huis toe te gaan. Deur die loop van die dag, en veral tydens middagete, het ek agtergekom Arno het nie soos gewoonlik in my oë gekyk as hy met my praat nie,” sê Mareli.

Sy meen sy was daarom baie rustig toe sy hoor sy gaan huis toe.

“Net voor die uitstemming kon ek op my bed lê en voor God stil word. In daardie tyd het ek geweet dit maak nie saak wat gebeur nie; alles is nog in Sy hande,” sê sy.

Mareli sê ook dat behalwe die wonderlike ervaring, sy heeltemal tevrede is met hoe sy haar Boer Soek ’n Vrou-avontuur aangepak het. “Ek sou niks wou verander nie. Ek glo ek was myself deur die hele situasie.”