Voor hulle met die program begin het, was Nicole Buirman (26) en Suzanne Nel (57), van die Berry Bright Food Fanatics-span, bang vir een ding: dat hulle eerste uitgestem sou word.

Dié Karoo-plaasmeisies het gelukkig hul eerste episode van Ultimate Braai Master: The roads less travelled oorleef. Hulle is eers gisteraand in hierdie nuwe werklikheidskompetisie op SABC3 uitgeskakel.

Die Berry Bright Food Fanatics-braaimeester, Nicole, sê dis ’n teleurstelling vir haar en Suzanne, haar braaimaat en ma. Tog was dit ’n goeie ervaring en hulle het baie mense ontmoet. “Dis iets wat ons altyd sal onthou,” sê sy.

Suzanne sê hulle het hul bes gedoen. “Ons het baie komplimente gekry, maar ongelukkig het die beoordelaars nie saamgestem nie.”

Suzanne wou aanvanklik nie inskryf nie, maar Nicole het haar omgepraat. Sy het gou besef dit kan die uitdaging van ’n leeftyd wees. “’n Ma-en-dogter-span wat saam reis, kook en braai; waarvoor kan ’n mens meer vra?”

Vir hulle was die hoogtepunt van die uitdaging om al die mooi plekke te sien “wat ons nie eens geweet het in Suid-Afrika bestaan nie”.

In gisteraand se episode het die 14 spanne die oggend roofvis in Sodwanabaai gevang. Daarna het hulle by die Coral Divers Lodge hul vangs gebraai, vir die perfekte kampeer-ete.

“Tyd was altyd ’n probleem in die uitdagings,” vertel Nicole. “Dit was ons grootste bekommernis.”

Gisteraand se uitdaging was vir hierdie Berry Bright Food Fanatics-tweestuks die moeilikste. “Dit bly ’n goeie ervaring, maar dit was beslis intenser as die ander uitdagings,’’ sê Suzanne.

Hulle stem saam: Hoewel die uitdaging vir hulle agter die rug is, sal die wonderlike mense wat hulle ontmoet het, altyd deel van hul lewe wees.

Vrae aan die Berry Bright Food Fanatics (BBFF):

V: Watter werk doen julle?

BBFF: Nicole is die eienaar van Berry Bright Safety and Sportwear op Robertson, wat handelsmerkware vir maatskappye maak en skermdruk doen. Suzanne besit die Pietersielie Kontreiwinkel en die Talk of the Town-koffiewinkel op Ashton.

V: Wat was die snaakse oomblik op die stel?

BBFF: Ons helde-oomblik! Nicole moes met eiers in die lug goël en een van die spanlede het probeer om een van die eiers met nog ’n eier raak te gooi. Ons kon nie ophou lag nie.

V: Watter buitelug-omgewing wat julle besoek het, was jul gunsteling?

BBFF: Sodwanabaai. Ons is albei lief vir die see, en dis werklik besonders om die bos en die see op een plek te kry.

V: Wat braai julle die graagste?

BBFF: Niks op aarde klop ’n lekker skaaptjoppie nie.

V: Is braai vir julle belangrik?

BBFF: Ons braai saam as ’n gesin; ons braai saam met vriende. Ons braai net wanneer ons die kans kry. Om ’n vleisbraai te hou is net nog ’n rede om ’n klomp mense bymekaar te kry vir ’n lekker tyd met ’n lekker biefstuk of tjoppie en wyn. ’n Kuier is nie ’n kuier sonder ’n braai nie.