Ons derde kind aan’t sterf

Ses jaar gelede is die lewe van Freda Hartman se oudste dogter op net 18 jaar wreed kortgeknip deur ’n onbekende siekte wat dokters met die hande in die hare gelaat het. Nadat haar tweede dogter net 11 maande later op 17 aan dieselfde siekte beswyk het, het haar jongste die ligpunt in haar lewe geword.

Nou is haar enigste oorlewende kind, die 15-jarige Emmerenchia, reeds in ’n rolstoel – ook sterwend in die kloue van dieselfde geheimsinnige moordenaar.

Emmerenchia was die een dag nog ’n kranige swemmer, en die volgende dag het haar bene net skielik lam geword. ‘‘Sy het net een middag by die agterdeur geval en kon nie opstaan nie,’’ vertel Freda huilend in hul sitkamer in Witbank.

Tussen Freda en pa Julius sit Emmerenchia en speel met die worshondjie op haar skoot. Ons vra hoe sy dit alles hanteer, en sy antwoord: ‘‘Ek is bang . . .’’

‘‘Ek het nog gevra wat skort, en sy het gesê haar bene is lam,’’ vertel Freda van daardie vreeslike dag. “Ek het versteen gestaan, want dit is presies hoe die siekte by haar susters begin het.’’

Haar vurige hoop dat die sluipende doder haar gesin tog nie ’n derde keer sou tref nie, was blykbaar tevergeefs.

‘‘Ek het vir haar gesê: ‘Dalk het jy maar net ’n spier seergemaak.’ Maar ons ergste vrees is binne dae bevestig.’’ Freda het Emmerenchia geneem na die neuroloog wat ook haar susters behandel het, en hy het bevind dat dit dieselfde siekte is.

Die verlamming wat in haar bene begin het, het nou ook haar ruggraat aangetas. Sy kry ’n paar keer per dag epileptiese stuiptrekkings en word geteister deur verskriklike hoofpyne. ‘‘Soms is dit so erg dat sy haar kop teen die muur begin stamp,’’ vertel haar ma. “Haar voete is so inmekaargetrek dat sy nie meer skoene kan dra nie.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 14 Januarie.

Weet jy van iemand wat aan 'n soortgelykte siekte ly, of dieselfde simptome toon? Vertel vir ons jou storie hieronder in die kommentaarveld of stuur vir ons 'n e-pos aan web@huisgenoot.com.