Die aanval op Gordhan is deel van ‘n ’n wyer aanslag wat basies daarop neerkom dat sogenaamde staatskapers direkte toegang tot die tesourie wil hê en die minister en sy makkers – wat as struikelblokke gesien word – wil verwyder.

1. Waarvan beskuldig die Valke Gordhan?

Die Valke beskuldig hom onder meer van korrupsie en dat hy, toe hy hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), staatsgeld vermors het omdat hy toegelaat het dat sy adjunk op vroeë aftrede gaan en weer op kontrakbasis aangestel word. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy spioenasiewetgewing oortree het omdat die SAID onder sy leiding ’n eenheid op die been gebring het wat intelligensie versamel.

2. Hoe reageer Gordhan daarop?

Die minister sê in ’n verklaring en prokureursbrief, wat hy gister die wêreld ingestuur het, dat sy regsadvies toon hy het geensins onwettig opgetree nie. Sy adjunk se vroeë aftrede is met die staatsdienskommissie uitgeklaar, terwyl die ondersoekeenheid wat intelligensie versamel het, in oorleg met die Staatsveiligheidsagentskap op die been gebring is.

3. Waar staan Zuma?

Die president het sy mes in vir Gordhan omdat die minister baie streng met die staatsbeursie te werk gaan en enige spandabelheid keer. Sedert Gordhan as minister oorgeneem het, het hy volgens Huisgenoot se inligting korrupsie van “reuse omvang” ontbloot. Dit hou baie gevare in vir Zuma en van sy makkers, soos die Gupta-familie. Zuma-manne is boonop in beheer van instellings soos die polisie, Valke en die nasionale vervolgingsgesag.

4. Waarom die aanslag op Gordhan?

Die prys is die nasionale tesourie, die behoeder van ons ekonomie en die spilpunt van goeie finansiële bestuur. Nhlanhla Nene se afdanking as minister van finansies is vertolk as ’n direkte poging van Zuma om beheer oor die staatsbeursie te kry. Die drama daarna en die skade wat dit aan die ekonomie gerig het, bewys hoe belangrik dié instelling is. Wanneer die tesourie se onafhanklikheid bedreig word, skep dit geleenthede vir bedrog en korrupsie. Goeie bestuur is vir Gordhan en sy span ononderhandelbaar.

5. Wie is aan Gordhan se kant? En aan Zuma s’n?

Die minister van finansies het vroeër vanjaar in ’n ongekende stap ’n beroep op die publiek gedoen om hom te ondersteun. Dié steun bestaan uit die burgerlike samelewing: die publiek, nieregeringsorganisasies, die sakegemeenskap, akademici, kerke en geloofsgroepe en die onafhanklike media. Gordhan het ook steun in ANC-geledere, onder oudstryders soos Trevor Manuel en adv. George Bizos en in die SAKP (snaaks genoeg!). Zuma geniet die steun van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, wat eindelik al die belangrikste partybesluite neem. Hy beheer ook die vernaamste staatsinstellings, soos vroeër gesê. Dan is daar die Guptas, wat skynbaar groot invloed oor die president uitoefen.

6. Wat is die gevolge en gevare?

Met Nene se afdanking in Desember het die rand soos ’n klip geval en die Johannesburgse effektebeurs het miljarde rande in waarde verloor. Onlangs het die rand binne minute tot soveel as 5 persent van sy waarde verloor. Ekonome sê Gordhan se afdanking sal niks minder van rampspoedig vir die ekonomie wees nie, met ons geldeenheid wat sal verswak en beleggersvertroue wat sal vou. Boonop sal die kredietgraderingsagentskappe ons ook verder afgradeer. Polities gesproke sal dit beteken die slegte ouens is besig om te wen.

7. Nou wat nou?

Gordhan het gesê hy gaan nie met die Valke praat nie. Al wat dus vir die Valke oorbly, is om hom in hegtenis te neem by sy kantoor in Kerkplein 40, Pretoria – die tesourie se hoofkantoor. Dit sal egter nie ’n slim skuif van die Valke en Zuma wees nie. Daar is toenemend gerugte van ’n kabinetskommeling waar Gordhan óf uit die kabinet weggelaat óf na ’n ander departement geskuif word. In so ’n geval sal hy niks kan doen nie omdat die president, volgens die Grondwet, besluit wie sy ministers is. Gordhan is egter vasbeslote om hierdie geveg in die openbaar te laat uitspeel. Ons sal dus elke verwikkeling sien.