’n Suid-Afrikaanse gesin het lekkers by ’n straatwinkel in Nice, Frankryk gekoop enkele minute voor ’n trok tydens Bastilledag-vieringe Donderdag deur ’n groep mense gejaag en minstens 84 mense se dood veroorsaak het.

Henri Meistre het op sy Facebook-blad gedeel dat hy en sy gesin oukei is ná die voorval.

“Ons is in Nice. Almal van ons is oukei. Ons het net links van waar die trok tot stilstand gekom het, gestaan. Die klein straatwinkeltjie in die foto’s op nuusstasies is waar ons ’n paar minute tevore lekkers gekoop het. Ek deel foto’s van ons almal in dieselfde plek enkele minute vroeër. Chaos het uitgebreek en ons het almal net weg van die Promenade des Anglaise gehardloop.”

Volgens Facebook is Henri van Johannesburg en het hy die Hoërskool Northcliff bygewoon. News24 het berig hulle wag nog op ’n antwoord van Henri.

Die Suid-Afrikaanse regering het hom vroeër teen die “lafhartige terroriste-aanval” uitgespreek.

Pres. Jacob Zuma het via die departement van internasionale betrekkinge en samewerking Vrydagoggend in ’n verklaring sy innige meegvoel aan die Franse pres. Francois Hollande, die regering en die mense van Frankryk, veral die families van die oorledenes en beseerdes “namens die regering en die mense van Suid-Afrika” betoon.

Bron: News24