’n Helderpienk nota is op haar deur geplak wat besoekers waarsku hulle sal fisiek deursoek word wanneer hulle inkom, want verklikkers word nie geduld nie.

Luidens ’n berig in Mashable is polisielede van die Fayette-distrik in Wes-Virginië gevra om ’n ander klag te ondersoek toe hulle die nota op die oorversigtige April Lynn Lavender se deur opmerk.

“As gevolg van verklikkers sal almal wat by my huis inkom, deursoek word,” het die nota gelui. “Los alle selfone en drank buite. As jy nie ’n verklikker is nie, sal jy nie beledig voel as ek jou deursoek nie!”

Hierdie “subtiele” aanduiding het die polisiebeamptes laat glo die 38-jarige April is met iets onheiligs besig en hulle het ’n lasbrief bekom om haar huis te deursoek.

“Benewens die uitvoer van hul ondersoek rakende die ander klag, het die polisie die inwoners ondervra oor dwelmverkope en toestemming gekry om die huis te deursoek,” het die polisie op Facebook gedeel.

“Hierdie soektog het heroïen en metamfetamien, sowel as verskeie ander onbekende middels, wat moontlik dwelmmiddels kan wees, opgelewer.”

Sy is in hegtenis geneem en eindelik vrygelaat op borgtog van $10 000 (sowat R139 000).

Een mens se kommentaar op die polisie se Facebook-blad het gelui: “Dit is ’n besonderse soort onnoselheid!”

Bronne: Mashable, Facebook, WVVA