HY het as held gesterf en by die gedenkdiens vir Daniel “Kraai” de Bruin en nog ses lede van ’n elite-polisietaakspan het die polisiehoof, genl. Bheki Cele, hul hoë lof toegeswaai. Hulle is in Julie dood toe hul helikopter neergestort het op pad na ’n Witbankse bakkery waar rowers toegeslaan het.

“Die luukse van hierdie kinders om hul pa’s te gaan raad vra, is weg,” was die polisiehoof se roerende woord. “[Die polisie] sal die pa’s vir hierdie wesies en mans vir hierdie [weduwees] wees. Ons kan julle nie alleen laat loop nie. Jul mans is helde.”

Maar as jy vandag met hierdie 31-jarige polisieheld se weduwee, Lize, wil gaan simpatiseer, sal jy haar en hul twee seuns in ’n Wendy-huisie in iemand anders se agterplaas in Elandspoort, wes van Pretoria, aantref.

Jean-Pierre (5) en Christiaan (10) moet ’n bed deel, in ’n hoekie van die huisie wat met ’n gordyn van hul ma se slaapkamer geskei is.

“Ek weet nie hoe ons dit sonder hom gaan haal nie,” sê Lize. Hulle maak staat op die goedgunstigheid van weldoeners.

Maar selfs toe Kraai nog geleef het, was dit elke dag ’n opdraande stryd. Lize is werkloos en hulle moes op sy polisiesalaris van R8 000 ’n maand oorleef. Hy moes noodgedwonge oortyd werk soos om die Amerikaanse span tydens die Wêreldbekersokkertoernooi te beveilig.

“Ons het hom min gesien. Hy het hard gewerk om vir ons te sorg,” sê Lize hartseer. Die laaste geld was gewoonlik al vyf dae voor betaaldag op, want hulle moes skoolgeld en busgeld vir die kinders betaal, ’n paaiement van ’n lening vir ’n familiebegrafnis ’n paar jaar gelede en ten minste R2 000 se kruideniersware.

“Hy sou die staatsamptenaarstaking steun, want hy en sy kollegas kon nie meer met hulle salaris trotse polisielede wees nie,” sê Lize. “Vir ons seuns is dit baie swaar. Hulle pa was hul held, daarom wil hulle ook eendag vir die polisie werk. Ek hoop dinge raak beter.”

Maar baie staatsamptenare wil nou nie meer net bly hoop nie en het sedert 18 Augustus op groot skaal begin staak. Want nie net polisiemanne- en vroue nie, maar ook vele ander staatsamptenare in sleutelberoepe soos die onderwys sukkel maand ná maand om kop bo water te hou.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 September 2010