apples

Dit is die les wat ’n toegewyde juffrou van Staffordshire in Engeland aan haar klas wou oordra.

Om dit reg te kry, het sy niks anders nie as twee appels gebruik om te wys wat die gevolge van fisieke en emosionele afknouery is.

Die onderwyseres het op Facebook vertel sy het vir haar klas twee appels gewys, maar die kinders het nie geweet sy het een daarvan herhaaldelik op die vloer laat val nie.

Sy het die gekneusde appel omhoog gehou en vir die kinders gesê hoe min sy daarvan hou en dat sy dink dit is walglik.

Die kleur daarvan is lelik en die steel te kort. Sy het ook gesê sy wil nie hê hulle moet van die appel hou nie en gevra hulle moet ook lelike goed oor die appel sê.

Lees ook: Opvallende agterstewe omskep vrou in Instagram-sensasie

Van die kinders het gedink sy is gek, vertel die juffrou, maar die appel is deur die klas aangestuur sodat elke kind die kans kon kry om dit te beledig.

Van hulle het onder meer gesê dit stink, dat hulle nie eens weet waarom die appel bestaan nie en dat dit waarskynlik wurms het.

Sy sê hulle het die “arme appel” goed sleg gesê, tot sy “jammer begin voel het vir die outjie”. Een meisietjie het wel geweier om die appel te kritiseer.

Daarna is die ander appel rondgestuur en komplimente gegee, soos dat dit lieflik is, ’n pragtige skil en ’n besondere kleur het.

Eindelik het die juffrou albei appels aan die klas voorgehou en albei het nog dieselfde gelyk. Daarna het sy hulle oopgesny.

Die appel wat hulle gekomplimenteer het, was vars en sappig aan die binnekant.

Die ander een was binne gekneus en pap. Die onderwyseres glo die kinders het dadelik gesnap wat sy hulle probeer leer het.

Lees ook: SA ouers inderhaas hospitaal toe ná eenjarige ‘giftigste sampioen ter wêreld’ eet

“Wanneer iemand ons sleg behandel, kry ons sulke kneusplekke en wonde in ons binneste,” het sy verduidelik en bygevoeg wanneer mense – en veral kinders – afgeknou word, wys hulle dikwels nie hoe aaklig hulle voel nie.

Maar anders as die appel, het mense volgens haar die vermoë om afknouery stop te sit – kinders moet leer dis onaanvaarbaar en sien wat die gevolge daarvan is.

Sou ons dit nie doen nie, sal die pyn wat dit veroorsaak net vererger. Sy moedig mense aan om ’n hele generasie te leer vriendelik en saggeaard wees.

Hierdie Facebook-inskrywing is meer as 145 000 keer gedeel en het 131 000 reaksies uitgelok.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Ouers vind vindingryke manier om identiese drieling te onderskei

Hoe weet ek wanneer my kind ekstra leerhulp nodig het?

Die verbasende voordeel van vroeg inkruip

Hierdie daaglikse roetine kan jou langer laat lewe