"Dis immers 2017 – ’n meisie kan self besluit wat sy wil doen."

’n Skool in Amerika, die Highland High School, loop deur nadat hulle huiswerk wat wemel van “geslagsvooroordele” aan leerders uitgedeel het.

Die voorval het aan die lig gekom toe Jenn Oxborrow van Utah die taak op Facebook deel wat haar dogter, Lacy, huis toe gebring het van haar klas in volwasse rolle en finansiële geletterdheid.

Sy het by ’n foto van die taak geskryf: “My dogter wat in gr.11 is, se huiswerk lui: ‘Gaan op ’n afspraak! Met ’n ou. En volg sy voorstelle – moenie sy persoonlike gewoontes korrigeer nie, moenie sy geld mors nie en toon respek. Dankie aan die departement van onderwys in Utah dat julle ons kinders so opvoed. Ons waardeer julle bewysgegronde vrouehaat opreg.”

Behalwe dat dit meisies aanraai om op ’n afspraak te gaan, bevat die “verregaande” taak ’n lys van sowat 20 “voorstelle” hoe hulle tydens ’n afspraak moet optree.

“Eet die kos wat jy bestel; moenie sy geld mors nie,” en: “Wees vroulik en tree soos ’n dame op,” is van die “seksistiese” voorstelle.

Lees die res van die lysie hieronder.

homework

“Ek was geskok,” het Jenn aan ABC4 Utah gesê. “Ek kon nie glo dis ’n regte taak nie.”

Lacy het ook gevoel die taak laat veel te wense oor.

“Dis 2017 en ’n meisie kan besluit wat sy wil doen,” het sy laat hoor.

“Daar was baie geslagsvooroordele op daardie blaaie.”

Die deelstaat Utah se onderwysraad het gereageer op die Facebook-inskrywing wat gou-gou versprei is, maar intussen verwyder is.

“Ons het dadelik opgetree toe (die aanbevelings) onder ons aandag kom – en dis duidelik onvanpas. Ons het dit laat verwyder,” het ’n woordvoerder, Mark Peterson, gesê.

Hy sê die voorval sal ondersoek word omdat die raad nooit dié gedeelte van die leerplan goedgekeur het nie.

Wat dink jy van die taak? Laat weet ons op ons Facebookblad.

BRONNE: GOOD4UTAH.COM, FACEBOOK.COM