HY WAS geskok en gegrief toe hy die gedokterde prentjie die eerste keer sien – hy, adjunkhoof van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, en die skoolhoof, kamtig nakend saam met ’n ander man, kamtig besig om mekaar te betas.

Die saggeaarde man met die skerp blou oë waarin die vonke soms dans as hy passievol raak, skud weer sy kop in ongeloof by die gedagte aan daardie dag toe ’n onderwyser vir hom die fotokopie gebring het wat iemand op die skool se kennisgewingbord geplak het.

"Ek het net gedink ek verdien dit nie," sê dr. Louis Dey (47), wat intussen by Waterkloof weg is. Die drie seuns wat daardie prentjie saamgestel en per selfoon onder hul skoolmaats versprei het, het hom dan nie eens geken nie. "Ek het nie eens vir hulle klas gegee nie . . ."

Maar hulle het die verkeerde slagoffer gekies. Want een van die kwessies wat die vonke in hierdie Afrikaans-onnie se blou oë laat blits, is onderwysers se regte. En daaroor het Louis toe tot in die hoogste hof in Suid-Afrika gaan baklei.

Nou, verskeie hofsake later, skuld die drie jong mans vir Louis R25 000 plus sy regskostes, wat nagenoeg R800 000 beloop, vir hul “grap”. So het die konstitusionele hof op 7 Maart beslis.