Johannesburg – Daar was ’n “ongewone vibrasie, en kort daarna het die onderstel aan die linkerkant gefaal toe die vliegtuig van British Airways, wat Maandag vroegmiddag op die OR Tambo Internasionale Lughawe gestrand was, wou neerstryk”.

Die vliegtuig was glo ’n paar minute op die aanloopbaan besig met die standaardprosedure vir landing, toe die bemanning die “ongewone vibrasie" opmerk.

Die nooddienste van die Lughawensmaatskappy is van die voorval in kennis gestel en het onmiddellik die passasiers en bemanning gehelp om veilig van die vliegtuig af te klim. Niemand is beseer nie. “Die vliegtuig is tans op aanloopbaan O3R en Comair en die betrokke owerhede is op die toneel om die nodige reëlings te tref vir sy verwydering."

Die aanloopbaan is om veiligheidsredes gesluit.

Vlug BA 6234 van British Airways, het om 10:35 in Port Elizabeth opgestyg met ses bemanningslede en 94 passasiers aan boord, en hulle het net ná twaalfuur die middag in Johannesburg aangekom.

Comair het vroeër gesê hulle en die betrokke owerhede gaan ’n ondersoek van stapel stuur om uit te vind wat die weiering van die onderstel veroorsaak het.

Warren Mann, ’n passasier wat tydens die ongeluk aan boord was, het aan Traveller24 gesê die loods het ’n aankondiging gedoen nadat die vliegtuig geland het en die passasiers ingelig dat die “linkerkantste onderstel afgebreek het”.

“Dit het veroorsaak dat die vliegtuig die aanloopbaan teen ’n hoek getref het. Ons het vonke gesien soos die linkervlerk en die enjins oor die aanloopbaan geskraap het,” het Warren aan Traveller24 vertel.

“Dit lyk asof die vlerk heeltemal afgebreek het.

“Brandweer- en reddingsbeamptes het na ons toe aangehardloop gekom en die vliegtuig voortdurend gespuit. Daarna het ons die vliegtuig via ’n noodtrap verlaat,” het Warren gesê.

Bron: News24