Dit gaan nie oor die vreemdsoortige geregte wat soms voorgesit word nie, maar meer oor die geursel wat bygevoeg word om dit op te kikker. En die gaste ook . . .

China se voedsel-en-medisyne-owerheid het onlangs 35 restaurante, insluitend ’n baie gewilde Beijingse kettingrestaurantgroep, se deure gesluit.

Lees ook: Lawwe verskonings wat mense gebruik om weg te bly van die werk af!

Want sien, hierdie restaurante maak nie net staat op hul vaardigheid in die kombuis of hul fynproewersgeregte en noedels nie. Hulle kies ’n kortpad na jou smaakkliere. Wat is dan nou makliker as om gemaalde opium-papawersaad as ’n “spesiale” geurmiddel by te voeg?

Dié verpoeierde weergawe van die papawerblom bevat ’n geringe persentasie opiate soos morfien en kodeïen, en word graag by veral sop en noedelgeregte gevoeg. Maar moenie dink kreef- of ander geregte spring dié behandeling vry nie!

Lees ook: Britney Spears beleef ’n blaps

Behalwe dat dit klante so ’n bietjie opkikker, is dit ook ’n subtiele manier om seker te maak hulle kom terug. Sonder dat hulle regtig weet, hulle kry in alle onskuld ’n dosis opiate in.

’n Restauranteienaar in die Shaanxi-provinsie het aan die polisie erken dat hy die papawerpoeier in sy geregte gebruik om gereelde klante daaraan verslaaf te maak.

Hierdie onwettige geurmiddel duik die afgelope paar jaar gereeld op. In 2012 is sewe restaurante in die Ningxia-provinsie en in 2004 nie minder nie as 215 restaurante in die Guizhou-provinsie gesluit omdat hulle dié praktyk toegepas het.

Papawerpoeier wat van die doppe gemaak word, bevat ’n hoër opiaat-inhoud as die papawersade wat ’n mens gewoonlik op bagels aantref.

Bronne: nytimes.com, abcnews.go.com, qz.com

Foto ter illustrasie.