The Mirror berig Zhang Weiwei (22) was op pad terug van ’n maaltyd saam met haar vriende toe die ongeluk gebeur.

Die student van die Universiteit van Wahun in die Hubei-provinsie in Sentraal-China het ’n roomys gekoop en het al geselsend na haar slaapsaal geloop toe ’n vriendin haar sien en op haar rug spring om haar te groet.

Die meisie het so groot geskrik dat sy die hele 14 cm lange metaallepel ingesluk het.

Die student het nie dadelik dokter toe gegaan nie aangesien sy, volgens haar, net “opgeblaas” gevoel het en geen duidelike pyn of ongemak verduur het nie.

Nadat sy egter inligting op die internet gesoek het, het sy blykbaar besef watter ernstige nagevolge dit kon inhou as die lepel te lank in haar maag gelos sou word.

Sy het die volgende dag hospitaal toe gegaan en die dokters het daarin geslaag om die metaallepel deur middel van ’n minimaal ingrypende operasie op te vis deur dit terug te trek deur haar keel en by haar mond uit. Die operasie het net 10 minute geduur.