’n Mens kan jou verkyk aan die sirkels en strepe van Andres Amador se kunswerke. Dié kunstenaar van San Fransisco wag daagliks op die laag gety voor hy begin werk aan sy grootskaalse strandskeppings, waarvan sommige meer as 3 km lank is, net sodat die gety dit weer kan uitvee.

’n Foto is al wat hy oorhou. “Dis net as die kunswerk skeefgeloop het of as die gety te vroeg inkom dat ek die foto maar los.”

Maar wat sal iemand motiveer om so baie tyd en energie aan iets te bestee wat binne ure gaan verdwyn? Andres sê hy doen dit nie net vir die kuns nie; dis ook om op die strand en in die sonskyn te wees, en dat dit hom baie geleer het van verganklikheid.

[post-slider]

Hy sê een werk duur sowat twee uur, en as hy mense het wat help, is die werke selfs groter. “Ek begin nooit sonder ’n plan nie, maar dikwels besluit ek eers wat ek gaan teken wanneer ek by die strand aankom.”

Hoewel hy al van 1999 kuns maak vir kunstefeeste soos Burning Man, het hy eers in 2004 met die strandkuns begin. Nou wonder ons hoe een van sy kunswerke op ’n Suid-Afrikaanse strand sal lyk . . .

As jy nog van Andres se werk wil sien, gaan na sy Facebook-blad of besoek sy webtuiste by www.andresamadorarts.com.