Sy in die ou Transvaal. Hy in die Vrystaat. Maar eers langer as 59 jaar later het hulle mekaar ontmoet en besef hulle is ook geesverwante.

Hulle skree selfs vir dieselfde span. Die Leeus. “Jy gaan lank soek om weer van so ’n kombinasie te hoor. Dit glo ek vry,” meen Wilma Jansen van Vrededorp, Johannesburg.

Sy is besig om op te pak en Primrose, Germiston, toe te trek wanneer sy en Martin la Grange op hul verjaardag in Markspark in Emmarentia trou.

Hulle het dit nie vooraf geweet nie, maar dis ook die verjaarsdag van die pastoor wat hulle in die eg gaan verbind.

Twee weke gelede stuur hy vir haar ’n foto van ’n trourok wat hy op Facebook gesien het. Hy en gaste sal maar net moet wag of hy reg geraai het oor die rok wat sy al lank gelede gekies het voor sy voorstel.

Martin La Grange en Wilma Jansen, "tweelinge" en sielsgenote trou een van die dae. Foto: Verskaf

“Ek het nie gedink ek sal ooit weer verlief raak nie,” erken Wima. Op 17 September verlede jaar was haar man, Neels Jansen, al drie jaar oorlede.

“Ek het vir hom gesê: ‘Nag my engel.' Hy is in sy slaap dood. Ons vermoed dit kan sy hart wees, want ek wou nie ’n outopsie laat doen nie. Hy is nog nooit tevore geopereer nie.” Hulle was 38 jaar getroud (sy was 55 en hy 65) en dit was vir haar baie moeilik om oor sy afsterwe te kom.

Haar vriende het gesê dis tyd vir ophou rou, maar sy het nog nie gereed gevoel om aan te gaan met haar lewe nie.  

Later sou sy hoor dat Martin ’n gereelde klant was by haar liefdadigheidswinkeltjie in die Johannesburgse middestad. “Ek het hom nooit raak gesien nie.”

Daar was ook baie ander trauma wat sy moes verwerk. Sy het 35 kg verloor weens die kortisoon waarop sy moes wees nadat ’n taxi haar in Jorrisenstraat in Braamfontein, oorkant die Universiteit van die Witwatersrand, van agter raak gery het.

Sy was drie en ’n half maande in die hospitaal en moes agt operasies ondergaan. ’n Paar maande gelede was daar ook ’n gewapende rooftog by die winkel . . .

“Want die Here het duidelik beskik dat ons mekaar moes ontmoet.”

In September verlede jaar het sy en ’n professor staan en gesels in die winkeltjie toe Martin daar instap. Sy het vertel sy is ’n ’57-model en dat sy vir haar 60ste deur die land met ’n rugsak wou toer. Martin het sy ore gespits, want hy is ook toe gebore en wil ook die pad vat vir sy verjaardag.

“Op watter datum verjaar jy?” vra sy toe.

“Die 11de.”

“Dis onmoontlik. Ek verjaar ook dan.”

Hy het sy rybewys gaan haal en hulle het aan die gesels geraak. Hy vra toe of hulle dalk ’n Lions T-hemp in die winkel se tweedehandseklere-afdeling het. Sy sê toe daar is net ’n Stormers een. Maar sy is ook ’n vurige ondersteuner van sy rugbyspan.

Hulle het eers op 25 November hul eerste amptelike afspraak toe hulle gaan uiteet. “Ek gaan nie sê waar nie. Dis te romanties,” vertel Wilma geheimsinnig.

Een aand het hulle toe gesels oor al die toevallighede. Hulle skryf toe gelyktydig op ’n stukkie papier van hoe laat presies hulle gebore is op dieselfde dag. "Agtuur die aand," was albei se antwoord . . .

"Hy sal my liefhê soos die korrelsand op die strand en soos 'n traandruppel in die see."

Op Oukersaand het hulle verloof geraak. Hy het Distant Drums van Jim Reeves gespeel en toe met die lirieke "marry me" in die agtergrond het hy haar gevra om sy vrou te wees.

"Hy sal my liefhê soos die korrelsand op die strand en soos 'n traandruppel in die see. Indien ek dit kan opspoor, sal sy liefde dan nie eens kan stop nie. Hy het ook gesê soos die sout in die see hoort, behoort sy hart aan my," vertel sy.

"So sodra ek in die kerk stap, gaan die Jim Reeves-liedjie speel en dan die troumars."

En nou tel Wilma die slapies af. “Want die Here het duidelik beskik dat ons mekaar moes ontmoet.”