[caption id="attachment_168631" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images[/caption]

Brenda Phillips, ’n tandtegnikus van Lisbun in Noord-Ierland, het ’n silikoon-oorskerm bedink om die oor se sensitiewe kraakbeen te beskerm.

“Blomkoolore is nie mooi om na te kyk nie,” het Brenda aan die Telegraph gesê.

“Maar dit gaan nie net oor voorkoms nie; dit kan ook baie pynlik wees en permanente oorskade veroorsaak.”

Die idee het vier jaar terug by haar opgekom toe sy rugby saam met haar seun, Connor – wat self ook rugby speel – gekyk het.

“Ek het by die huis rugby saam met Connor sit en kyk. John Afoa (die voormalige Britse klubrugbyspeler) het ’n stukkie watte of een of ander beskerming op sy oor gehad. En toe word hy geduik en is sy oor weer oop.

“Ek sê toe: ‘Hoekom is daar in vandag se tyd nog steeds nie beskerming vir die ore nie?’ Wie wil daardie aaklige blomkoolore hê?”

Brenda, ’n ma van twee, het 18 jaar gelede haar eie tandheelkunde-laboratorium in haar woonkamer begin. Sy het twee jaar gelede ’n ou kerksaal gekoop en dit in haar familiebesigheid, Lambeg Dental Laboratory, omskep wat sy saam met haar seun, Connor (23), en dogter, Naomi (25), bestuur.

Dit is waar die Caulear Protection Ear Shields vervaardig is.

“Dis gemaak van ’n deursigtige rubber, dis soos ’n silikoon rubber,” het sy aan die televisieprogram Good Morning Ulster gesê.

“Dis liggewig, sterk en buigsaam en word spesiaal vir individuele ore vervaardig,” sê sy oor die oorskerm wat reeds deur rugbyspelers, beroepsatlete in judo en stoeiers gebruik word.

Die oorskerm, waarvoor die patent hangende is, bly vas danksy ’n mediese vel-kleefmiddel wat aan die oppervlak van die vel gewend word.

“Dis nog vroeg, maar daar is baie belangstelling. Die skerm is kompak en jy kan nog steeds hoor as jy dit dra. Ek glo dis die toekoms van alle kontaksportsoorte.

Bronne: telegraph.co.uk, bbcnews.com, timeslive.co.za