Katte in die sorg van die Regina Humane Society in die Kanadese provinsie Saskatchewan speel interaktiewe speletjies op iPads om hulle besig te hou tot hulle aangeneem word en 'n nuwe woonplek kry. Die speletjies het bewegende visse, muise of insekte wat die katte kan probeer “vang” met hul pote. Die vereniging noem dit die Pads for Paws-program.

“Katte is mal daaroor om te jag en bekruip. Hierdie programme gee die katte die geleentheid om dit op iPads te doen,” sê Lisa Koch, uitvoerende direkteur van die vereniging. Hulle laai die programme sommer van iTunes se aanlyn winkel af.

"Katte wêreldwyd, met huise, gebruik hierdie programme al jare lank om muise en ander goeters op hul eienaars se skerm rond te jaag. Hoekom kan hulle nie ook 'n plesiertjie vir daklose katte verskaf nie?" vra Linda. Dit maak hul omgewing meer stimulerend.

"Dis ook lekker vir jong vrywilligers van 12 jaar en ouer om saam met die katjies van hierdie tegnologie gebruik te maak. Die katte het ook ander speelgoed, soos handgemaakte geskenke deur vrywilligers. Hierdie tegnologie is net nog ’n manier om die katte gelukkig en kalm te hou," sê sy.

Die iPads word neergesit op plekke waar die katte gewoonlik bymekaarkom. Hulle sal om die tablet versamel en beurte maak om daarop te speel.

Soos met enige interaktiewe rekenaarspeletjie vir mense, raak dit ál moeiliker soos die vierpotiges die verskillende vlakke van die speletjie baasraak.

Daar is nie klinkklare bewyse daarvoor nie, maar die mense by hierdie plek van veiligheid hoop dit help hul tydelike inwoners glo dat hulle eendag ’n kat se kans het om ’n permanente huis te kry.

Bronne:huffingtonpost.co.za, cbc.ca, Instagram.com/reginahumanesociety/