Volgens ’n kontrak tussen One Direction, Syco en Sony sal die groep tot 2016 saamwees.

Niall Horan, Zayn Malik, Liam Payne, Harry Styles en Louis Tomlinson het ’n kontrak van R160 miljoen aangegaan met Simon Cowell se maatskappy Syco en die platemaatskappy Sony. Daarvolgens moet hulle ook nog drie albums uitreik.

Die sangers van Best Song Ever reik hul derde album, Midnight Memories, in November uit. Hulle gaan ook nog twee ateljee-albums en ’n versameling van hul grootste treffers uitgee. Daarbenewens sal hulle, behalwe vir hul Where We Are-wêreldtoer volgende jaar, nog wêreldtoere onderneem.

’n Bron het aan die koerant The Sun gesê: “Dis ’n groot ooreenkoms vir Simon en die ouens. Dit toon vertroue in ’n toekoms vir die groep. Dis onwaarskynlik dat die groep sal ophou bestaan en dat die kunstenaars op hul eie sal begin optree. Dit sal hulle maklik tot die einde van 2015, en dalk selfs tot 2016, besig hou.

“Dis ook baie geld werd. Hulle kry ’n voorafbetaling van miljoene, en dan baie meer uit albumverkope, toere, handelsmerke en handelsware.”

One Direction het in 2010 bekendheid verwerf danksy die Britse weergawe van The X Factor. Hulle het twee trefferalbums, twee toere en ’n 3D-konsertvideo agter hul naam.