One Direction is onlangs as die rykste Britse glansmense onder 30 jaar aangewys.

Met hul fortuin van byna R950 miljoen het die seunsgroep die akteur Daniel Radcliffe na die tweede plek laat afskuif op die tydskrif heat se lys van rykste glansmense onder 30 jaar.

Harry Styles (19), Niall Horan (19), Zayn Malik (20), Liam Payne (20) en Louis Tomlinson (21) het geskiedenis gemaak toe hulle die eerste Britse groep word om op nommer een ’n debuut op die Amerikaanse trefferlys Billboard te maak. Dit was met hul tweede album, Up All Night.

Lucie Cave, hoofredakteur van heat, het gesê: “One Direction is jonk, talentvol, verbysterend aantreklik en het miljoene bewonderaars. Daarby kan ons nou voeg ‘rol in die geld’. Niemand het gesê die lewe is regverdig nie.”

Daniel, wat ’n ongeveer R900 miljoen werd is, het die grootste salaristjek van al die jong sterre op die lys ontvang danksy die winsgewende Harry Potter-reeks, maar vir die eerste keer sedert 2010 na die tweede plek afgeskuif.

Die hoëprofiel Britte Robert Pattinson, Keira Knightley en Emma Watson het almal vir die tweede jaar agtereenvolgens die top-vyf gehaal.

Die nuwelinge met die hoogste plekke op die lys is DJ Calvin Harris (R355 miljoen), die model Rosie Huntington-Whiteley (R90 miljoen), die sangeres Jessie J (R90 miljoen), die The Amazing Spider-Man-ster Andrew Garfield (R80 miljoen) en die seunsgroep JLS (R78 miljoen)

Die aktrise Carey Mulligan van The Great Gatsby is aangewys as die ster wat die grootste sprong gemaak het. Sy het 10 plekke gespring na nommer 19, terwyl die akteur Aaron Taylor-Johnson agt plekke gevorder het na nommer 16.

’n Paneel kenners van glansmense het die sterre se verdienste vir die afgelope jaar beoordeel op grond van hul TV- en rolprentooreenkomste, plateverkope en produkonderskrywings.

Die vyf rykste Britse glansmense onder 30 is:

One Direction R950 miljoen

Daniel Radcliffe R900 miljoen

Robert Pattinson R706 miljoen

Keira Knightley R605 miljoen

Emma Watson R447 miljoen