One Direction gaan by sir Richard Branson se Oujaarsopskop optree.

Die sakeman se kommersiële ruimtevlugte skop volgende jaar af en hy beplan om dit bekend te stel met ’n groot makietie by sy huis op Necker-eiland in die Karibiese See.

“One Direction is genader om die hooftrekpleister te wees en by die partytjie op te tree,” het ’n bron aan die koerant Daily Mirror gesê. “Die partytjie word gehou ter viering van die begin van Virgin Galactic se ruimtevlugte, wat teen die einde van volgende jaar sal begin, maar daar sal nie ‘gewerk’ word nie – Richard wil hê almal moet lekker kuier. Hy het gaste genooi om oor te bly vir ’n dekadente partytjie.”

Die besoek aan die eiland kan sout in Harry Styles se wonde wees – hy was verlede jaar in daardie gebied met vakansie saam met sy destydse meisie, Taylor Swift, toe hul paadjies geskei het. Hy het daarna na Richard se idilliese tropiese oord gegaan, waar hy gekiek is in ’n borrelbad omring deur beeldskone vroue.

Behalwe vir die groep – wat Niall Horan, Zayn Malik, Louis Tomlinson en Liam Payne insluit – is ander gaste wat by die partytjie verwag word, glo diegene wat opgedok het vir die ruimtevlugte van sowat R2,5 miljoen – Ashton Kutcher, Brad Pitt, Justin Bieber, Kate Winslet en Russell Brand.