Dit is wat Gaby Alfaro se pa 17 jaar gelede in ’n notaboek geskryf het toe hy Engels begin leer.
Gabby het in 2016 aan die Universiteit van Kalifornië ’n graad verwerf en onlangs haar meestersgraad in opvoeding en onderwys behaal.

Sy is, volgens Buzzfeed, ook in die San Bernardino-skooldistrik as ’n onderwyseres aangestel, iets wat sy sedert haar kinderdae wou hê. 

Toe Gabby se ouers in hul 20’s was, het Carlos, haar pa, tuine uitgelê en aandklasse gevolg om Engels te leer.
 
’n Paar maande gelede het Gabby se ma afgekom op sy notaboeke uit daardie tyd.
“Sy het dit vir my en my susters gewys. Ons het omtrent gehuil,” het Gabby aan BuzzFeed News vertel.

Toe Gabby graad kry, het sy ’n foto van die nota getwiet en ’n foto van haar pa aangeheg. Die onderskrif lui: “My pa dit as deel van ’n taak geskryf terwyl hy aandklasse gevolg het om

Engels te leer. Sewentien jaar later kry ek toe my meestersgraad. Ek het dit gedoen, Pa. Dankie.”

Die nota lui:

“Dit is verstommend om te sien hoe vinnig sommige kinders die dinge begryp wat ons hulle leer. Ek het ’n dogter wat pas ses jaar oud geword het. Ek en my vrou het sedert haar tweede jaar vir haar gelees. Sy is nou in die kindertuin en haar onderwyseres sê dis moeilik om te glo sy kan so goed lees en spel. Volgens haar onderwyseres lees sy net so goed soos ’n kind in gr. 3. 

“My dogter is lief vir lees. Ons probeer vir haar baie boeke koop. Soms gaan ons biblioteek toe, waar sy na hartelus kan lees. Ons neem ook tot 20 boeke uit wat sy by die huis kan lees.

“Dit is een van die redes waarom ek besluit het om terug te keer skool toe. Ek wil haar met haar huiswerk kan help om haar te wys opvoeding is die enigste manier waarop sy haar drome kan verwesenlik.”

Volgens Gabby is haar pa gewoonlik baie macho en wys hy nie eintlik sy gevoelens nie. Dit maak sy brief nog meer verrassend en roerend.  

Haar pa het nie geweet sy het die notaboek ontdek nie en ook nie dat sy dit in die sosiale media gedeel het nie.

“Ek wou hom wys hoe suksesvol sy harde werk was,” het sy gesê. 

“Toe dit begin gewild word, het my ma my pa by die werk gebel om hom in te lig hy raak beroemd. Ek is seker hy gaan ’n bietjie verleë wees.” 

Ekstra bron: Buzzfeed