’n Gewilde onderwyseres van ’n plaaslike skool het haar peuter van 17 maande en haar man in hul slaap noodlottig geskiet. Daarna het sy die geweer op haarself gerig, maar net ’n skoot deur haar skouer afgevuur.

Erin Agren (43) het verdwaas en in pyn langs die lyke van haar man en seuntjie in hul huis gelê tot ’n eiendomsagent twee dae later op hulle afgekom het.

Erin is inderhaas na ’n hospitaal geneem, waar sy aan die polisie erken het sy wou haar gesin uitwis.

Die eiendomsagent, Steve Mullenix, is Sondagmiddag met ’n groep potensiële kopers na die gesin se huis, wat al ’n tyd lank in die mark is.

By hul aankoms omstreeks drieuur het Steve gille uit die hoofslaapkamer gehoor, waarna hy op Erin afgekom het.

Daar word nou beweer Erin het aan ’n geestesteuring gely, onder meer paranoia.

Erin en haar man, Michael Jordan (59), was albei onderwysers aan die staatskool Lummi Nation naby hul huis.

Die skool het kort ná die tragedie bekend geword het op hul Facebook-blad geskryf: “Ons is diep geraak deur die verlies van ’n baie toegewyde en geliefde onderwyser.” Erin was glo ook gewild onder die leerders.

Sy word nog in die hospitaal vir die skietwond behandel. Sy word deur twee aanklagte van moord in die gesig gestaar. Die polisie probeer nog vasstel wat haar motief vir die dade kon wees.

Die egpaar was net minder as twee jaar getroud. Erin het glo geen misdaadgeskiedenis nie.

Bronne: Daily Mail; Mirror