Die Gautengse onderwysdepartement het Maandag ’n voorval veroordeel waarin ’n onderwyser by ’n skool in Vereeniging glo niks gedoen het om beweerde afknouery stop te sit nie.

Phumla Sekhonyane, ’n woordvoerder van die departement, het gesê distriksamptenare sal na die skool gestuur word om die voorval, wat verfilm is en op Facebook en YouTube opslae gemaak het, te ondersoek.

Die video, waarop dit lyk of ’n tiener ’n ander een aanval sonder dat dit die onderwyser pla, is al meer as 600 000 keer gekyk. Dis op Nicolaas Putter se Facebook-blad sowel as op YouTube vertoon.

“Dit is onaanvaarbaar. Ons keur die voorval ten sterkste af en gaan distriksamptenare na die skool toe stuur om die saak te ondersoek,” het Phumla gesê.

Volgens Nicolaas se inskrywing op Facebook is die voorval Vrydag by die skool verfilm.

Die video begin waar ’n tiener sê hy het toestemming om die seun aan te val. Daarna klap hy hom, slaan hom met die vuis en stamp hom met die knie.

Soos die kamera rondswaai, kan die onderwyser by sy lessenaar gesien word waar hy sit en boeke nasien. Ná die afranseling is die slagoffer met sy vinger in sy mond gesien terwyl die ander tiener hom beveel om sy tand uit te trek.

Pogings om kommentaar van Nicolaas te kry was onsuksesvol, maar op sy Facebook-plasing sê hy: “Ek wil hê hierdie leerder en die onderwyser tot verantwoording geroep word! Hulle behoort toegesluit te word! Deel dit met soveel mense as wat jy kan”.

’n Bespreking op die skool se Facebook-muur toon daar is tot in Nieu-Seeland na die video gekyk. In baie van die inskrywings eis mense dat die vermeende boelie se naam genoem word en hulle hoop hy sal gestraf word.