“Ons kan bevestig dat die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe die saak ondersoek en dat hulle iemand in hegtenis geneem het,” het ’n woordvoerder, Appel Ernst, aan News24 gesê.
'Daar is geen plek vir lyfstraf in ons onderwysstelsel nie.'

“Hy sal môre (Vrydag) in die Krugersdorpse landdroshof verskyn.”

Die Gautengse onderwysdepartement het gister (Donderdag) gesê hulle beskou die voorval in ’n “ernstige lig”.

“Ons keur lyfstraf ten sterkste af aangesien dit verbied word deur die Grondwet van die land en ook deur die Suid-Afrikaanse skolewet, ” het die woordvoerder, Phumla Sekhonyane, gesê.

“Daar is geen plek vir lyfstraf in ons onderwysstelsel nie. Die beweerde gedrag van die opvoeder is, as dit as waar bewys kan word, heeltemal onaanvaarbaar.”

Volgens die webtuiste van die Krugersdorp News het die ma by haar tuiskoms op 7 Mei haar dogter in pyn aangetref. Haar linkerhand was na bewering baie erg geswel.

Die webtuiste berig ’n onderwyser het glo die meisie met ’n staalpyp geslaan omdat sy ’n wiskundevraag verkeerd beantwoord het.

Volgens Phumla het die departement amptenare na die skool gestuur om hulle van die feite te vergewis, en die skoolhoof sou ook ’n verslag verskaf.

“As bevind word dat enige opvoeder lyfstraf toegepas het, sal hy of sy van aanranding aangekla word en dit kan daartoe lei dat die opvoeder afgedank word,” het sy gesê.

“Die departement het die afgelope klompie jare opvoeders opgelei, en lei hulle steeds op, om alternatiewe dissiplinêre maatreëls en prosedures te identifiseer en in werking te stel.

“Die betrokke leerder sal berading aangebied word.”

News24