Johannesburg – “Jou seun is ’n sissie. Kalmeer net, asseblief.”

Ná meer as twee jaar se geboelie het Nelmarie in 2010 besluit sy het genoeg gehad en haar seun uit die skool gehaal, het Netwerk24Woensdag berig.

Verlede Vrydag is ’n video by dieselfde skool geneem van ’n ander leerder wat na bewering geboelie word terwyl ’n onderwyser sit en vraestelle merk sonder om in te gryp. Die vermeende boelie sê in die video hy het die onderwyser se “toestemming” om sy slagoffer te “m**r”.

Die video is al meer as 600 000 keer gekyk en meer as 60 000 keer gedeel. Dit is op sosiale media gelaai nadat ’n leerder dit aan sy pa gewys het om te wys hy jok nie oor die geboelie wat hy ervaar nie en dat die onderwysers niks daaraan doen nie.

Vingers verstuit, snoepiegeld gesteel

Nelmarie sê haar seun is gedurig geboelie toe hy 15 jaar oud was. “Hy is fyn gebou en hy het baie swaar gekry. Hulle (die boelies) het sy kos en snoepiegeld gesteel en hom geskop tot sy vingers verstuit was. Hy het pouses in die klas geëet.”

Sy nek is ook met hout gebrand, voeg Nelmarie by. Sy sê sy het dit telkens onder die skool se aandag gebring, maar ’n onderwyser wat nie meer by die skool is nie het vir haar gesê sy moet kalmeer en nie ’n bohaai opskop nie. Die betrokke skool is vir kinders met leerprobleme en Nelmarie kon haar kind nie in ’n hoofstroomskool plaas nie.

Ondersoek

Phumla Sekhonyane, ’n woordvoerder van Gauteng se departement van onderwys, het Vrydag se voorval sterk veroordeel en gesê dit sal ondersoek word. Panyaza Lesufi, Gauteng se uitvoerenderaadslid vir opvoeding, het die video gesien en ’n verslag van die skool aangevra, asook nog besonderhede oor die voorval en die betrokkenes.  Phumla het gesê die hoof het met die slagoffer se ouers gepraat, en Panyaza sal die skool Woensdag besoek.

Netwerk24