’n Groep Oscar Pistorius-ondersteuners het voor sy verskyning Dinsdagoggend buite die hooggeregshof in Pretoria bymekaargekom. Een van die Paralimpiese atleet se vurige bewonderaars, Kayla Nolan (18), het gesê sy het hom Maandag ’n drukkie gegee en sien daarna uit om weer so te maak. “Ek het hom hier (by die hof se ingang) ’n drukkie gegee. Dit was wonderlik om hom te ontmoet. Ek was ook gister ’n ruk lank in die hof,” het Kayla gesê.

'Ek hoop hy gaan sterk genoeg wees om die hofsaak te kan hanteer.'

“Ek hoop hy gaan sterk genoeg wees om die hofsaak te kan hanteer. Sy familie en ons gebede staan hom by. Sy ware ondersteuners gaan hom steeds bystaan ongeag die uitkoms van die saak.”

Kayla se ma was ook in die hof om Oscar te ondersteun.

Die leerder Ruth Chivhaku het gesê dit het ’n ritueel geword dat sy verby die hof se ingang stap om haar ondersteuning te wys. “Ek sal hom altyd ondersteun. Hy is ’n ongelooflike mens. Ek weet hy gaan dié beproewing oorleef,” het sy gesê. Nog ’n ondersteuner, Marika Minie (25), het gesê sy sal ’n Oscar-aanhanger bly, ongeag die hofuitspraak.

'Ek dink nie hy is skuldig nie; ek glo in sy onskuld.'

“Ek dink nie hy is skuldig nie; ek glo in sy onskuld. Ek hou nie van al die aanmerkings oor hom nie,” het Marika gesê.

“Ons moet hom nie oordeel nie. God gaan ons ook oordeel.”

Talle plaaslike en internasionale joernaliste het by die hof se ingang gestaan. Daar was ook ’n aantal polisiebeamptes teenwoordig.

’n Nuwe getuie vir die verdediging, Michael Nhlengetwa, is Dinsdag geroep.

Hy is een van Oscar se bure in die Silver Woods-landgoed.

Hy het getuig dat hy en Oscar ’n liefde vir motors deel en dat Oscar hom dikwels sy nuwe motors kom wys het.

Die sakeman, wat sy eie onderneming besit, het gesê hy het Reeva Steenkamp net een keer ontmoet. Volgens Michael het Oscar haar voorgestel as sy verloofde.