Bronne in wetstoepassing het aan TMZ gesê kenners van dié departement het hul ondersoek na ’n voorval tussen Brad en sy aangenome seun, Maddox, aanboord ’n privaatvliegtuig in September, afgehandel.

Dié beweerde voorval het daartoe gelei dat Brad se vrou, Angelina Jolie, vier dae later om ’n egskeiding aangesoek gedoen het, maar beamptes het bevind die akteur het hom nie aan kindermishandeling tydens die argument skuldig gemaak nie.

Maatskaplike werkers het weke lank die voormalige paartjie en hul ses kinders ondervra, asook ooggetuies en personeellede om uit te vind wat gebeur het.

Die departement se bevinding gee Brad ’n hupstoot in sy toesigstryd met sy vervreemde vrou wat vir alleentoesig van hul aangenome en biologiese kinders gevra het. Brad wil gesamentlike toesig hê.

Intussen het Brad Dinsdag sy eerste openbare verskyning gemaak sedert sy en Angelina se paadjies geskei het om ’n privaat vertoning van die fliek, Moonlight, by te woon. Sy maatskappy, Plan B, het dit vervaardig.

Brad het in ’n goeie bui gelyk, maar was duidelik maerder as toe hy laas gesien is. Hy was wel ontspanne geklee in ’n blokkieshemp en donker baadjie en broek. Sy goeie vriendin Julia Roberts, het hom na die geleentheid vergesel vir morele ondersteuning.

Hy het ook Woensdag die eerste vertoning van sy nuwe Tweede Wêreldoorlog-fliek Allied bywoon, waarin die Franse aktrise Marion Cotillard ook speel.

© Cover Media