Die mens se neus kan minstens 1 triljoen verskillende reuke onderskei, miljoene meer as wat voorheen geraam is, het Amerikaanse navorsers Donderdag gesê.

Wetenskaplikes het dekades lank aanvaar mense kan net 10 000 geure bespeur en die reuksin ver onder die vermoëns van sig en gehoor geplaas.

“Ons ontleding toon die mens se vermoë om tussen reuke te onderskei is veel groter as wat enigiemand verwag het,” sê Leslie Vosshall, hoof van die Rockefeller-universiteit se laboratorium van neurogenetika en medeskrywer van die verslag.

Die vorige raming van die neus se vermoëns, wat met die hulp van 400 reukreseptore uitgevoer is, dateer uit die 1920’s en is nie deur data ondersteun nie.

Navorsers het geraam dat die menslike oog en sy drie reseptore tussen verskeie miljoene kleure kan onderskei en dat die oor tussen 340 000 klanke kan onderskei.

“Niemand het ooit moeite gedoen om reuk te toets nie,” sê Leslie.

Vir hul navorsing het die wetenskaplikes 26 deelnemers blootgestel aan mengsels van 128 verskillende odorantmolekules wat afsonderlik gras, sitrus of verskeie chemikalieë kon oproep, maar in groeperings van tot 30 saamgevoeg is.

“Ons wou nie hê hulle moes duidelik herkenbaar wees nie; daarom was die meeste van ons mengsels baie goor en vreemd,” sê Leslie.

“Ons wou hê mense moet aandag gee aan ‘dit is ’n baie ingewikkelde ding dié – kan ek ’n ander ingewikkelde ding kies wat anders is?’ ”

Die vrywilligers het drie flessies geure op ’n slag getoets – twee wat dieselfde was en een wat anders was – om te kyk of hulle kon vasstel wat die uitskieter was en hulle het 264 sulke vergelykings voltooi.

Die navorsers het toe uitgewerk hoeveel geure die deursneemens sou kon waarneem as al die moontlike kombinasies van 128 odorante getoets is, en sodoende by hul skatting van minstens 1 triljoen uitgekom.

Die hoofnavorser, Andreas Keller, ook van die Rockefeller-universiteit, sê die syfer is amper gewis te laag, want in die regte wêreld is daar verskeie ander odorante wat op tallose maniere gemeng kan word.

Hy sê ons voorsate het meer op hul reuksin staatgemaak, maar verkoeling en die ontwikkeling van persoonlike higiëne het geure in die moderne wêreld beperk.

“Dit kan ons houding verklaar dat reuk onbelangrik is vergeleke met gehoor en sig,” sê Andreas.

Die reuksin word nou verbind met mense se gedrag en die navorsers beklemtoon dat die bestudering daarvan kan lig werp op hoe die menslike brein ingewikkelde inligting verwerk.

Die ondersoek is in die joernaal Science gepubliseer.

– Sapa