“Die dagvaarding is voorberei, maar ons het gevoel ons moet weer na die dossier kyk, en het dit teruggestuur vir ondersoeke,” het die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Velekhaya Mgobhozi, Woensdag gesê.

“Soveel as wat ons die dagvaarding gereed het, is dit nooit op mnr. Pistorius beteken nie en hy is nooit aangekla nie. Geen besluit is geneem nie en dit gaan baie moeilik wees vir my om dit te vooruit te loop.”

Velekhaya het gesê ’n besluit sal geneem word sodra die ondersoek afgehandel is. Op 8 Januarie het die Limpopo-polisie gesê klagtes van roekelose en nalatige bestuur staar Carl in die gesig. Toe het kol. Ronel Otto gesê die besluit is vroeër dié maand geneem nadat Carl nagelaat het om ’n verklaring in te dien.

'Ondanks talle pogings het mnr. Pistorius nie ’n verklaring ingedien nie.'

“Die ondersoekbeampte het verklarings by die ander partye en ooggetuies gekry. Ondanks talle pogings (deur die beampte) het mnr. Pistorius nie ’n verklaring ingedien nie.”

Die dossier is na die hof gestuur waar ’n aanklaer opdrag gegee het dat klagtes teen Carl aanhangig gemaak word, het Ronel gesê.

Die saak sou in Februarie in Modimolle se landdroshof aangehoor word. Ronel kon nie dadelik die datum verstrek nie.

Die ongeluk het buite Modimolle plaasgevind toe Carl se motor in Augustus verlede jaar trompop met ’n ander motor gebots het.

Hy moes met lewenskake uit die wrakstukke verlos word voor hy en die ander bestuurder met ernstige beserings hospitaal toe gebring is. Twee passasiers in sy motor was ongedeerd.

In Mei verlede jaar is Carl vrygespreek op ’n aanklag van strafbare manslag ná ’n ongeluk in 2008 waarin ’n motorfietsryer dood is.

- Sapa